Die gemeente van die VGK Silversands is moedeloos omdat hulle reeds sedert verlede Dinsdag verskeie programme moes kanselleer weens die stank van riool.
’n Rioolpyp in ’n nabygeleë sekerheidskompleks het gebars en die riool spoel nou deur die kerkperseel.
George Jason, die kerk se woordvoerder, sê dit het tot groot ontwrigting gelei. “Dit het Dinsdag begin en ons program vir senior burgers, katkisasieklasse, ’n biduur, ’n jeugbyeenkoms en die oefening vir die lof-en-aanbiddingspan moes afgestel word,” sê hy.
Volgens Jason sal die eredienste ook eersdaags in gedrang kom. “Dit is moeilik om by die hek in te kom, waar jy deur rioolvuil begroet word. Beamptes van die Stad Kaapstad het Woensdag kom help skoonmaak. Donderdagoggend toe is probleem terug en sedertdien kry ons geen terugvoer nie. Dit blyk asof die oorsprong ’n lekkende drein by die uitgangshek langsaan Bardale Uitbreiding 3 is,” sê Jason.
Hy sê die riool hou ’n gesondheidsrisiko in, veral vir die bejaardes en jong kinders.
“Daar is mense wat rolstoele gebruik en hoe higiënies kan dit nou wees as iemand deur rou riool moet ry? Daardie riool word dan tot in die kerk versprei en gaan ook saam huis toe. Hierdie hele situasie maak dat niemand die kerk en sy programme geniet nie,” sê hy.
Dirk Boer, die orrelis van die gemeente, sê die stank trek tot ver buite die kerk.
“As jy aankom na die kerk toe, word jy deur die vieslikste reuk begroet. Dit is onmenslik om so kerk te moet hou. Daar bestaan ’n werklike vrees dat gemeentelede gaan wegbly van die eredienste,” sê Boer.
Die kerkraad het ’n brief aan die plaaslike subraad gestuur en gevra dat daar dringend aandag aan die probleem gegee word.
Die Stad Kaapstad sê by monde van sy woordvoerder, Lisle Brown, hulle sal terugvoer gee sodra hulle meer inligting het.





