Stad gee terugvoer oor rooikatvrektes in die Majik Forest-park in Van Riebeeckshof

Ná die vrektes van twee rooikatte binne drie maande in die Majik Forest-park, verskaf die Stad Kaapstad stappe oor hoe om sulke voorvalle aan te meld.FOTO: Pexels/Mike Singapore


Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Patricia van der Ross, het terugvoer gegee oor die vrektes van twee rooikatte in die Majik Forest-park in Van Riebeeckshof die afgelope paar maande.

Die eerste rooikatkarkas is op Maandag 13 Mei by die boonste gedeelte van Majik Forest, naby hek 6, by die elektriese substasie gevind (“Dooie rooikatte in woud skok”, TygerBurger, 11 September).

“Die karkas is visueel ondersoek en dit blyk dat die dier ’n besering aan die kant van sy lyf opgedoen het. In hierdie geval is ’n nadoodse ondersoek nie op die eerste karkas uitgevoer nie, aangesien dit as ’n geïsoleerde voorval beskou is, maar die departement reël vir nadoodse ondersoeke om die oorsaak van die dood van ’n dier uit te vind,” sê Van der Ross.

’n Tweede rooikatkarkas is om 11:30 op Maandag 2 September naby die noordelike grensheining van die park by die wildbewaarders van Majik Forest aangemeld. Maar met die wildbewaarders se aankoms was die karkas reeds onwettig verwyder.

“Die departement het nie tot ’n gevolgtrekking gekom oor die oorsaak van dood vir die tweede rooikat nie.”

Stad doen meer moeite

Volgens Van der Ross het die Stad gespesialiseerde veldwagters aangestel om die park te patrolleer.

“Die departement ontvang maandeliks verslae oor wildbewaringsaktiwiteite en oor regulasies wat oortree is.”

Verder is inligtingsborde oor bewaring regdeur die park geïnstalleer. “Ons werk ook nóú saam met ’n vriendegroep wat verskeie omgewingsopvoedingsessies oor die park en sy dierelewe aanbied.

“Die Stad benodig die hulp van die publiek om enige verdagte aktiwiteite wat in die park gesien word, aan te meld vir beter monitering en waaksaamheid.”

Maar toe daar gevra is hoeveel boetes of waarskuwings sover vanjaar uitgereik is aan besoekers wat die park se reëls oortree, sê sy: “Hoewel die veldwagters aandag gee aan veiligheids- en sekuriteitsake vir parkbesoekers en personeel, asook wetstoepassing van parkaktiwiteite en -regulasies, is hul hoofdoel natuurbewaringswetstoepassing.”

Inwoners het tendense van mense op veldmotorfietse in die park onder die parkbestuur se aandag gebring, maar Van der Ross sê geen so ’n klagte is amptelik aan wildbewaarders gerapporteer nie.

Wetstoepassers beboet

Sy wys ook daarop dat boetes nie deur die wildbewaarders in die park uitgereik word nie.

Indien enige wetgewing oortree word, word dit ’n wetstoepassingsaangeleentheid. Inwoners en besoekers wat enige oortreding waarneem, kan die Stad se openbare beheerkamer (PECC) skakel by 021 480 7700 vanaf ’n selfoon of 107 vanaf ’n landlyn (tolvry).

“Wanneer ’n voorval aangemeld word, moet gedetailleerde inligting soos die tyd, ligging en aard van die oortreding verskaf word.”

Bewaringsbewussyn

Die Majik Forest-park is ’n bewaringsgebied wat aansluit by die Tygerberg-natuurreservaat en omliggende plase.

“Dit is ’n belangrike biodiversiteitskorridor vir alle wild. Die publiek word aangeraai om seker te maak dat hulle by die reëls hou, soos op die bewaringsborde aangedui, en honde moet altyd aan ’n leiband wees.”

Sy voeg by dat besoekers aangemoedig word om die park te besoek, die pragtige natuurlike biodiversiteit van die gebied te geniet en meer te leer oor die diverse wild wat in die park voorkom, “maar hulle word ook daaraan herinner om dit te doen sonder om die wildlewe te versteur”.

Die Stad moedig besoekers ook aan om foto’s van wild te neem en dit op die iNaturalist-app op te laai en sodoende te help om die bewegings van die wildlewe te monitor en op te spoor en by owerhede aan te meld.

Vermeld dooie diere só

Besoekers aan Majik Forest-park kan die Old Oak Parks-depot kontak by 021 400 1763 (tydens kantoorure) of 021 957 4700 (na-ure).

Besoekers word ook aangemoedig om ’n foto van enige karkas wat op die terrein ontdek is, te neem en die ligging aan te teken indien dit veilig is.

Besoekers moet kennis neem van die kontaknommers op borde by ander rekreasie- en parke-fasiliteite.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article