Vir Jacques Conradie (62) van Kuilsrivier is draf ’n onmisbare deel van elke dag.
Elke liewe dag, sedert 26 Desember 2021, draf hy sowat 10 km – ongeag stormweer en selfs in die donker as dit nie anders kan nie.
Vrydag 20 September was die duisendste dag agtereenvolgens wat Conradie sy daaglikse draffie afgelê het.
Toe hy op skool was, het hy naweke sy oom gehelp om glasvesel-isolasie in dakke te installeer. “Dit het my longe geaffekteer,” vertel hy. Om badkamer toe te loop, het hom uitasem gelaat.
“Ek het besluit só kan dit nie aangaan nie; ek moet iets doen.”
Dit het begin by kort entjies stap wat geleidelik langer geword het. “Toe drie lamppale stap, en een draf. Dit het vir ’n jaar of wat so aangegaan.”
Toe hy die eerste keer saam met sy broer ’n Parkrun gaan doen het, het dit 48 minute geneem om die 5 km te voltooi. “Dit was meer stap as hardloop,” onthou hy.
Later het hy een dag gehardloop, een dag gestap, en soms ’n dag gerus.
Hy het ’n maand lank elke dag gehardloop tot voor 25 Desember 2021. “Ek het Kersdag afgevat, toe breek ek die siklus. Toe het ek dit my doel gemaak om van 26 Desember 2021 elke dag te hardloop.”
Bykans drie jaar, 18 paar tekkies en meer as 9 400 km later is daar geen keer nie.
“Reën of storms, maak nie saak nie, dit gaan net bietjie stadiger. Ek trek maar my kleertjies aan en doen dit.”
Hy is blind in een oog – “maar dit is nie ter sake nie”, sê hy.
Soms hardloop hy laataand. “Jy kom van Johannesburg gevlieg, maar moet jou draf inkry – partykeer is dit 21:00.”
Motivering
Conradie vang sy drafsessies sedert 2016 op Strava (’n oefen-app) vas. Dit hou dinge interessant en ’n bietjie mededingend.
Hy verduidelik verskeie hardlopers draf dieselfde roetes op Strava. Die een wat ’n roete die meeste hardloop word as “local legend” aangewys.
“Dit loop net oor die laaste 90 dae.” Ná 90 dae kies hy ’n ander roete.
Hy het meer as 500 “followers” op Strava “van oor die wêreld heen”, maar volg ook ander hardlopers. “Arvind Pal Dahiya in Indië is my rolmodel. Hy het reeds 1 553 dae elke dag gehardloop.”
Conradie poog om elke dag sowat 10 km of ’n uur lank te hardloop. Die afstand hang ook af van die Strava-roete wat hy gekies het om 90 keer te hardloop. ’n Paar maande gelede het hy daagliks sowat 11 km afgelê (op die Zevenwacht-roete).
”My gemiddelde oor 1 000 dae is 9,4 km per dag.”
Tydens die Covid 19-pandemie moes hy noodgedwonge om die huis hardloop - “40 keer”.
In 1997 het hy ’n rugoperasie ondergaan. “My dokter het gesê ek sal nooit weer in my lewe kan draf nie. Ek probeer kyk of ek die dokter verkeerd kan bewys,” skerts hy.
Met ouderdom vat die liggaam langer om te herstel, maar hy kan elke 24 uur minstens ’n uur lank gaan draf.
’n Paar tekkies hou hom so drie maande – “dan is 1 000 km klaar gehardloop”.
Conradie, wat die Hoërskool De Kuilen se finansiële administrasie behartig, sê nog ’n rede hoekom hy hardloop, is die voordele wat hy uit sy mediese fonds kry.
“Ek kry R1 000 afslag op my premie elke maand wat hulle vir my terugbetaal in my spaarrekening as ek konstant elke maand draf.”
Selfs al betaal hy ’n maandelikse premie vir die fonds se beloningsprogram, kry hy meer “cash backs” omdat hy al hul uitdagings (soos om vier dae per week vir vier weke te oefen of ’n sekere aantal kilojoules te verbrand) maklik oortref. Onlangs het hy ook ’n R1 000- koopbewys gewen, vertel hy.
Die mediese fonds-voordele dien as motivering, maar sy daaglikse draf is ook kans vir “kop skoonmaak”, sê Conradie.
“Ek werk met finansies by die skool en kry maar baie teenkanting van ouers, so dis goed om van die frustrasies ontslae te raak.”
Al het hy al halfmarathons gehardloop en kon eens 10 km in minder as 50 minute hardloop, gaan dit nie oor ver of vinnig nie. “Ek kan nie so ver hardloop nie; my heupe kan dit nie hanteer nie. Liewer elke dag 10 km rustig draf.”
Hy neem Omega 3 en magnesium om sy heupe en spiere gelukkig te hou. Verlede Donderdag – op sy 999ste “drafdag” in ’n ry – kon hy vir die 101ste keer bloed skenk.
Al die gedraf het sy vrou, Marina, ook “aangesteek”, sê hy.
“Sy doen elke week so 20 km – vier keer 5 km se draf en stap.”
Hy en sy “matriekafskeid-date van 1980” (by die Hoërskool DF Malan) sal op 29 September 40 jaar getroud wees. Hulle woon sedert 1985 steeds in dieselfde huis in Kuilsrivier.





