Inwoners en veral senior groepe in die Blue Downs-omgewing kan solank begin om hul winterklere weg te pak en hul swemklere aan te trek.

Só sê Koby Michaels, die man verantwoordelik vir die senior burgers se fiksheidsprogramme by die Blue Downs-swembad.

“Dit is weer tyd om die litte los te maak en ons fiksheid op datum te kry. Die winter was lank en ons moet bietjie aan die beweeg kom sodat die bloed weer deur ons are kan pomp. Ek weet daar is baie skarniere wat bietjie olie nodig het,” skerts Michaels.

Die swembad was toe gedurende die wintermaande. waartydens opknappingswerk gedoen is om dit weer in ’n goeie toestand te kry.

“Die Bluedowns-swembad is ’n wêreldklas-fasiliteit en daarom geniet mense dit om hier hul oefeninge te doen. Almal wat in die verlede hul fiksheidsoefeninge hier gedoen het, kan getuig van die geriewe van hoogstaande gehalte. Ek nooi dus almal, oud en jonk, wat voel hulle wil in ’n veilige omgewing met lekker mense oefen, om by ons aan te sluit,” sê Michaels.

Volgens hom bied hulle verskeie soorte water-oefeninge vir verskillende fiksheidsvlakke aan. “Aangesien ’n mens amper gewigloos in water is, is dit ’n baie goeie plek om in te oefen. Daar is ook minder impak op die gewrigte soos wanneer jy byvoorbeeld sou draf. Dit is dus goed vir beseerde sportmense wat besig is om te herstel.”

Michaels sê hulle beoog om binne die volgende twee weke alle programme volstoom aan die gang te kry.

  • Stuur ’n WhatsApp-boodskap na Michaels by 083 417 7995 vir meer inligting oor die programme of om aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article