In sy 75ste bestaansjaar het lede die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) onlangs by Joubert Wyne in Stellenbosch bymekaar gekom vir sy jaarvergadering.
By dié geleentheid het die Tafelberg-tak in Brackenfell ook sy 20ste bestaansjaar gevier.
Ian Cameron, die gaspreker, het lede oor misdaad en verantwoordelike vuurwapeneienaarskap toegespreek, gevolg deur die verkiesing van die vereniging se nuwe bestuur. Verskeie toekennings is ook gemaak.
Phillip van Zijl, stigterslid van die Tafelberg-tak en voormalige voorsitter, het uitgewei oor die geskiedenis van die vereniging.
“Op 1 Oktober 1949 het 50 jagters by die Pretoria-dieretuin bymekaar gekom om hul kommer uit te spreek oor die onbeheerde uitroei van wild wat gelei tot die stigting van die Transvaalse Jagtersvereniging. Die naam is in 1957 verander na die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging. Lede het besef dat ‘die geleentheid om te jag’ van bewaring afhanklik is,” het Van Zijl gesê.
“As ons nie vandag ons natuurlike erfenis bewaar nie, sal ons kinders nie die geleentheid hê om te jag en die natuurlewe te geniet nie.”
Volgens hom het die jagbedryf in Suid-Afrika gegroei en finansier dit vandag grootliks die bewaring van die natuurlewe.
“Aangesien wild kommersiële waarde het, is dit vir ’n plaaseienaar winsgewend om sy plaas te omhein en as ’n wildplaas te ontwikkel. Die wild daarop vermeerder terwyl die natuurlike habitat ook behoue bly.”
Sedertdien het die SAJWV gegroei tot ’n formidabele nasionale organisasie met internasionale erkenning en meer as 40 000 lede in 86 takke landswyd.
Die professionele vereniging word gelei deur ’n uitvoerende raad onder leiding van die huidige president, Basie Bergh, en bestuur deur ’n uitvoerende komitee van sewe voltydse funksionarisse onder die bekwame leiding van Fred Camphor, wat toesien dat die beleid van die vereniging nagestreef word.
Etiese jag
Die vereniging se belangrikste oogmerke sluit in etiese jag deur diere met een skoot dood te skiet en daarom die ontwikkeling en verbetering van skietvaardighede; verantwoordelike vuurwapeneienaarskap; die opleiding van lede en bewaring van die natuurerfenis.
Die Tafelberg-tak is op 17 Junie 2004 gestig op ’n vergadering by die Hoërskool DF Malan, onder die voorsitterskap van Stephan Fourie. “Stadig maar seker is die tak gebou en al die funksies gevestig. Tafelberg het twee sustertakke – Swartland en Overberg – help vestig deur die lede in daardie gebiede te laat afstig en te help met die totstandkoming van die nuwe takke. Tafelberg het ook die inisiatief geneem om die Tuinroete-tak in Knysna te help vestig.”
Gedurende die 20 jaar van sy bestaan het die tak slegs vier voorsitters gehad wat volgens Van Zijl dui op stabiliteit waar die bestuur goeie kontinuïteit behou het.
Die Tafelberg-tak is vandag ’n volwaardige en gerekende tak in die vereniging met meer as 900 lede en jaarlikse skoon oudits. Die tak spog ook as die beste in die land in die Nasionale Sportskietkompetisie.
“Ons kan trots wees op ons tak wat Christelike waardes handhaaf en die skeppingsopdrag nakom van God, wat van ons vereis om met verantwoordelikheid oor die skepping te heers,” sê Van Zijl.
Belangstellendes kan aansluit op www.sahunters aansluit, of Isabel Terblanche van die Tafelberg-tak by 083 787 6607 bel.





