Die Tygerberg-kinderkoor beklee die eerste drie plekke uit 1 000 kore op die jongste wêreldranglys.
Die nuutste Interkultur-wêreldranglys wat in Augustus vanjaar gepubliseer is, bevestig dat die kinderkoor die eerste plek beklee in die afdeling vir heilige en godsdienstige musiek, die derde plek in die kinder- en jeugkoor-afdeling en die algeheel tweede plek in die 1 000 topkore in die wêreld.
Die koor is genooi om in Oktober aan ’n koorkompetisie in Tolosa in Spanje te gaan deelneem. Ses kinderkore van oral in die wêreld is genooi,” sê Karina Erasmus, die dirigent van die Tygerberg-kinderkoor.
Die koor tree Saterdag om 16:00 in die Endlersaal in Stellenbosch saam met die Cape Town Camerata, wat as volwasse koor genooi is, op.
Hulle sal onder meer die kompetisie-program sing, asook ’n nuwe lied wat gebaseer is op vier Suid-Afrikaanse volkswysies. Die lied “Weggaan en terugkoms” is spesiaal deur prof. Hendrik Hofmeyer gekomponeer.
“Die kompetisie gaan daaroor om die historiese taal, Baskies, te bevorder en ons moet ’n voorgeskrewe Baskiese lied, asook ’n eie keuse Baskiese lied, sing,” sê Erasmus.
Die koor vertrek op 23 Oktober na Spanje, waar hulle eers ’n reeks konserte in die Navarra-streek sal hou en eindig met die kompetisie in Tolosa op 2 November.





