Bellville se informele dromkrappers en MES-begunstigdes spog met hul nuwe trollies, wat ontwerp is om afvalverwydering makliker, veiliger en doeltreffender te maak.


Gee pad voor die Greater Tygerberg Partnership (GTP) se baanbreker-innovasie vir Bellville se informele dromkrappers!

Hulle spog nou met hul nuwe trollies wat ontwerp is om afvalverwydering makliker, veiliger en doeltreffender te maak.

Die trollies is ontwikkel in samewerking met die Stad Kaapstad se departement van stedelike afvalbestuur en vennote soos die Instituut vir Afvalbestuur van Suid-Afrika, Bens Bike en Mould Empower Serve (MES) en verander nie net die lewens van dromkrappers nie, maar baan ook die weg vir ’n skoner, groener Bellville – Kaapstad se tweede grootste kommersiële sentrum.

Nuut en verbeter

Dié verbeterde trollies het ’n verlengde boonste gedeelte, wat dit vir dromkrappers moontlik maak om meer herwinbare materiaal op elke rit te versamel.

Dié verbeterde trollies het ’n verlengde boonste gedeelte, wat dit vir dromkrappers moontlik maak om meer herwinbare materiaal op elke rit te versamel.

Dit beteken minder reise, groter doeltreffendheid en beter geleenthede om hul tyd en moeite te maksimeer. Boonop kan dromkrappers met ’n ontwerp wat op die gebruiker se veiligheid en gerief gefokus is, veiliger in hul werk voel.

“Hierdie projek is meer as net ’n verbetering van vullisversameling,” sê Monique Muller, projekbestuurder by GTP.

“Dis daaroor om informele dromkrappers die gereedskap te gee om hul werk veilig, doeltreffend en met waardigheid te doen. Uiteindelik gaan dit ook oor ’n skoner, gesonder Bellville vir almal.”

Hierdie nuwe trollies is meer as net ’n manier om vullis te versamel; dit is ’n stap na beter werksomstandighede, verbeterde produktiwiteit en selfs ’n hoër inkomste vir diegene wat op hul trollie staatmaak om ’n bestaan te voer.

Wen-wen vir Bellville

Ilse Maartens, bestuurder van MES Kaapstad, sê hul begunstigdes baat wonders by dié projek as ’n sosiale vennoot van GTP.

“Die herwinningsprojek sorg vir werkplasing van ons hawelose begunstigdes wat by dié werk betrek word. Ons begunstigdes werk vier dae per week en een dag is ’n ontwikkelingsdag, waar sessies met ’n maatskaplike werker en arbeidsterapeut plaasvind word,” verduidelik Maartens.

“Die GTP is een van MES se belangrikste vennote. Hulle skep werk waar die onindiensneembares leer om indiensneembaar te word. Vir MES is dit dus ’n werksprogram met ’n toelaag wat deur GTP betaal word. Die voordeel hieruit is ’n skoner en groener stad!”

Derek Bock, bedryfshoof van die Voortrekkerweg-verbeteringskorridor (VRCID), doen ’n beroep op plaaslike besighede om hierdie inisiatief te ondersteun “aangesien almal afval moet begin herwin”.

“Ons stortingsterreine raak vol, en binnekort sal daar nie meer spasie beskikbaar wees nie. Besighede en individue moet dit ’n prioriteit maak om rommelstrooiing te stop,” meen Bock.

“Die VRCID kom daagliks onwettige rommelstrooiing en die storting van afval teë, wat onaanvaarbaar is. Soveel as drie ton rommel word daagliks deur die VRCID in Bellville en Parow ingesamel, waarvan ’n aansienlike gedeelte deur besighede herwin kon word.”

Volgens GTP is die gemeenskap se betrokkenheid van kritieke belang vir die sukses van hierdie inisiatief.

Maak ’n verskil

Inwoners kan ’n verskil maak deur addisionele trollies en vullisfietse te borg. Besighede kan selfs hul handelsmerk op hierdie trollies bemark, terwyl hulle tot ’n waardige saak bydra.

Daarbenewens kan inwoners en besighede betrokke raak deur hul herwinbare materiaal opsy te sit vir versameling. GTP bied ’n gratis herwinningsophaaldienste aan, en die opbrengs help om dromkrappers van die strate na meer veilige en ekonomies volhoubare rolle oor te dra.

“Hierdie inisiatief bewys dat klein, doelgerigte ingrepe lewens en die breër gemeenskap kan verander,” voeg Muller by. “Deur hulle te gee wat hulle nodig het, maak ons nie net skoon nie; ons bou ’n gemeenskap wat volhoubaar en inklusief is.”

Stuur ’n e-pos na monique.muller@gtp.org.za vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak of ’n trollie te borg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article