Agter elke produk staan egter 'n entrepreneur met 'n unieke storie.
Agter elke produk staan egter ‘n entrepreneur met ‘n unieke storie.

Brackenfell se ‘Mark met Hart’ keer terug met 140 stalletjies


Die gewilde Proteahoogte-wintermark keer vanjaar terug vanaf 26 Junie tot 4 Julie en beloof weer om een van die hoogtepunte op die plaaslike gemeenskapskalender te wees. Vir meer as twee dekades is hierdie geliefde mark ‘n plek waar mense bymekaar kom om te koop, te kuier, te ondersteun en deel te wees van iets groter.

Met meer as 140 stalletjies bied die mark ‘n unieke verskeidenheid handgemaakte produkte, geskenke, dekor, lekkernye, klere en nog vele meer. Agter elke produk staan egter ‘n entrepreneur met ‘n unieke storie.

“Vir sommige is dit afgetrede mense wat ‘n ekstra inkomste wil verdien. Vir ander is dit jong mammas wat hul gesinne ondersteun deur ‘n passie in ‘n onderneming om te skep. Daar is ook studente wat hul studies help finansier deur hul kreatiwiteit en harde werk”, sê ‘n woordvoerder by die kerk.

“Sommige van die klein ondernemings wat jare gelede hul eerste tree by die mark gegee het, het intussen gegroei tot gevestigde ondernemings. Dit is een van die grootste vreugdes van die markspan om jaar ná jaar te sien hoe entrepreneurs ontwikkel en sukses behaal.”

Belangrike rol in die gemeenskap

Die Proteahoogte-wintermark is egter veel meer as net ‘n inkopie-ervaring. Die mark skep ook waardevolle geleenthede vir tieners en studente om praktiese werkservaring op te doen. Jongmense kry die kans om vaardighede aan te leer, verantwoordelikheid te ontwikkel en ervaring op te bou wat hul toekomstige loopbaan kan ondersteun. Die mark is trots daarop om ‘n platform te bied waar mense kan groei, leer en ontwikkel.

As een van die NG kerk Proteahoogte se belangrikste fondsinsamelingsprojekte speel die mark ook ‘n belangrike rol in die gemeenskap. Geld wat deur die mark gegenereer word, word aangewend om verskeie gemeenskapsdienste en uitreikaksies van die gemeente te ondersteun. Elke aankoop by die mark dra dus nie net by tot die sukses van plaaslike entrepreneurs nie, maar help ook om ‘n positiewe verskil in die breër gemeenskap te maak.

Wanneer jy die Proteahoogte-wintermark ondersteun, ondersteun jy drome, skep jy geleenthede en help jy om hoop in die gemeenskap te bou.

Die mark word deur die gemeente bestuur en ondersteun deur meer as 50 gemeente- en gemeenskapslede wat hul tyd en energie gee om die geleentheid moontlik te maak. Vir die span is die mark ‘n geleentheid om diensbaarheid, gasvryheid en gemeenskapsbetrokkenheid uit te leef. Daarom staan die Proteahoogte-wintermark bekend as “die mark met hart”.

“Die publiek word hartlik uitgenooi om die mark te besoek, plaaslike entrepreneurs te ondersteun en deel te word van ‘n tradisie wat al meer as twintig jaar lank mense bymekaar bring. Wanneer jy die Proteahoogte-wintermark ondersteun, ondersteun jy drome, skep jy geleenthede en help jy om hoop in die gemeenskap te bou,” nooi die kerk.

Die Proteahoogte-wintermark vind plaas van 26 Junie tot 4 Julie by die NG kerk Proteahoogte, geleë by Heuwelstraat 75, Brackenfell. Die mark is op weeksdae oop van 10:00 tot 19:00 en op Saterdae van 09:30 tot 15:00. Volg die Proteahoogte- mark Facebook-blad vir die nuutste opdaterings op sosiale media. Kontak Bianca Louw by 063 971 3576 of e-pos markte@proteahoogte.co.za vir enige navrae.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article