‘n Konstabel sterk in ‘n mediese sentrum aan nadat hy vanoggend, Maandag 8 Junie, voor die Delft-polisiekantoor met ‘n byl gekap is.
Ernstig beseer
Omstreeks 02:05 het ‘n konstabel buite die polisiekantoor in Delft gestaan toe hy deur ‘n verdagte met ‘n byl genader is. Die verdagte het hom met die byl oor die kop geslaan en ernstig beseer.
Volgens kol. Andre Traut, polisiewoordvoerder, het ‘n kollega van die slagoffer die voorval sien gebeur en waarskuwingskote afgevuur. “Die verdagtes het gevlug en in die proses hul voertuig agtergelaat. Die polisie en LEAP-beamptes het saamgespan om die drie verdagtes, twee mans (23 en 25) en ‘n 23-jarige vrou in hegtenis te neem. Die byl wat vermoedelik in die aanval gebruik is, is ook gevind,” sê Traut.
Traut sê die konstabel is na ‘n mediese fasiliteit vervoer waar hy in ‘n stabiele toestand verkeer.
“Die rede vir die aanval vorm deel van die ondersoek. Die verdagtes word aangehou en moet nog in die hof verskyn,” sê hy.
Die Wes-Kaapse Minister van Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig, Anroux Marais, het die gewelddadige aanval op die konstabel veroordeel. “Hierdie is ‘n skokkende en lafhartige aanval op ‘n polisiebeampte en ek veroordeel dit ten sterkste. ‘n Aanval op ‘n polisiebeampte is nie net ‘n aanval op ‘n individu nie, maar ‘n direkte aanval op die gesag van die staat en die wetgewende gesag. Aanvalle soos hierdie kan nie geduld word nie en diegene wat daarop uit is om wetstoepassingsbeamptes te intimideer en te beseer daag dieselfde instansies uit wat reg en orde moet handhaaf.
Brutale misdaad
“Die staat moet daadwerklik optree teen sulke brutale misdaad en sy gesag moet ferm afgedwing word op diegene wat dink hulle kan polisiebeamptes sonder gevolge aanval,” sê Marais.
Marais het ook die polisie en die LEAP-beamptes geprys vir die spoed waarteen die inhegtenisnemings plaasgevind het. “Dis bemoedigend hoe die spoedige reaksie en professionele optrede en deursettingsvermoë tot die inhegtenisnemings gelei het. Ek doen ‘n beroep op ondersoekers om geen steen onaangeraak te laat om uit te vind wat tot die aanval gelei het nie. Die aanvallers moet die volle mag van die reg voel,” sê sy.
LEES OOK: Polisie ondersoek twee sake van moord in Valhalla Park





