Die Elsiesrivier-polisie het ‘n beroep op die familie van ‘n negejarige meisie van Elsiesrivier gedoen om hulle te nader as sy verder geteister word.
Dans aanlyn
Shenika Jacobs se lewe is onlangs op sy kop gekeer toe ‘n video waarin sy dans aanlyn versprei is. Die video het verskyn net toe aanlyngebruikers Shenikah se voorkoms met dié van die vermiste Joslin Smith begin vergelyk het.
Joslin het in 2024 in Middelpos, naby Saldanhabaai, verdwyn en hoewel die saak wye mediablootstelling geniet het, is sy steeds nie gevind nie. Intussen is haar ma, Kelly Smith, en twee mans, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn, lewenslank tronk toe gestuur weens ontvoering en mensehandel.
Haar naam het weer verlede week opgeduik toe ‘n dansvideo van Shenika op die video-deel-platform TikTok verskyn het. Daardie video het gelei tot bespiegeling of Shenika dalk die vermiste meisie is. Dit het so ver gegaan dat aanlyngebruikers begin eis het dat sy ‘n DNS-toets ondergaan.
Facebook-plasing
Claudine Coleridge, ‘n gemeenskapsaktivis, het vroeër vandeesweek op Facebook ‘n plasing gedeel waarin sy vra dat die gemeenskop moet ophou bespiegel oor die kind. Die plasing het glo gevolg op ‘n versoek deur die kind se familie. “Mense teister die gesin tot die punt waar die kind agtervolg word en die gesin van ontvoering beskuldig word. Hoewel sy baie op Joslin Smith trek, is dit nie sy nie. Sy het aan ‘n dansklub behoort, maar is nou bang om uit te gaan weens die teistering wat haar familie deurmaak. Sy is net ‘n meisie wie se normaal omgekeer is,” lui Coleridge se inskrywing.
Kapt. Esmarelda Flandorp, polisiewoordvoerder, sê dit is belangrik dat klagtes onder die aandag van die polisie gebring word. “As niemand na die polisie kom nie is daar niks wat ons daaraan kan doen nie. Sodra ander kinders betrokke raak, kan hierdie saak uit verband uit geruk word, want dit is moeilik om kinders stil te kry. Hierdie hele ding kan blywende skade aan die kind veroorsaak, dus rig ek hierdie versoek op ‘n dringende basis,” sê Flandorp.
TygerBurger het na Shenika se ma uitgereik om kommentaar en sal dit byvoeg sodra dit ontvang word.
LEES OOK: Kelly gaan appèl aanteken teen skuldigbevinding én vonnis




