Nowlan Jones en Wium McLachlan is hier saam met Chánterie van Rensburg.

‘n Kaapse gesin sê hulle is dankbaar vir ‘n gebaar wat twee fietsryers onlangs getoon het tydens hul deelname aan die jaarlikse Absa Cape Epic-bergfietstoer.

Die deelnemers Nowlan Jones van Proteahoogte in Brackenfell en sy spanmaat, Wium McLachlan van Robertson, het hul deelname aan dié kompetisie aan Chánterie van Rensburg (12), ‘n jong kankerlyer, opgedra. Dit het deel gevorm van hul Cape Epic #RidingForChánterie-veldtog.

Chánterie is ‘n graad 7-leerder en hoofmeisie by die Laerskool Panorama. Haar ouers, Clarissa en Divan van Monte Vista, sê hulle is uiters dankbaar vir Jones en McLachlan se gebaar.

Vir die twee fietsryers was die veldtog ‘n eer om aan te pak.

“Dit was nog altyd op my uitkloklysie om die Cape Epic op die ouderdom van 60 jaar te ry. Ek het met Wium kontak gemaak, aangesien ons al ‘n paar byeenkomste saam aangepak het. Ons het besluit om vir my dogter, Bianca, se By Faith Foundation, wat ongelooflike werk in Polokwane doen, te ry en toe Wium my aan die begin van Januarie van Chánterie vertel, was dit ‘n maklike besluit. Wium is self ‘n kankeroorwinnaar en dit lê ons na aan die hart. Dit was net ‘n plesier en ‘n eer om dit te kon doen,” sê Jones.

McLachlan het ook sy rede vir deelname aan die tog verduidelik. “Vir my is kanker persoonlik. Ek het jare gelede ‘n baie goeie vriend ná ‘n bitter kankerstryd verloor, daarna my eie ma in 2015, en in 2017 het ek self die kankerpad gestap.

“Met die Here se genade het ek ‘n tweede kans gekry, en is ek in Oktober vanjaar 10 jaar in remissie.

“Kankerbehandeling is fisiek en geestelik moeilik, en tydens my behandeling het ek baie mense — volwassenes en kinders — gesien wat baie swaarkry, maar die wil om te lewe was altyd teenwoordig ten spyte van die swaarkry. Ons volwassenes is soms beter toegerus om sulke nuus en diagnoses te hanteer, maar kinders verdien nie sulke swaarkry nie.

“Ek kan geensins sê ek weet hoe Chánterie voel of hoe die behandeling haar affekteer nie, maar ek het begrip vir haar stryd. Die manier hoe sy hierdie diagnose hanteer, haar positiewe ingesteldheid en glimlag, al voel sy dalk nie lekker nie, bewonder ek en is ‘n reuse-inspirasie.

“Dit was ook die rede vir die besluit om vir haar te ry, om verdere bewusmaking vir haar veldtog te help kweek, om haar te probeer inspireer om nooit op te hou baklei nie, om haar las spreekwoordelik saam met haar te help dra, en uiteindelik om enigiemand wat dalk swaarkry ‘n bietjie ekstra hoop te probeer gee.

“As ons dit kon bereik, was die Epic volmaak,” sê McLachlan.

Chánterie se pa, Divan, het destyds saam met McLachlan en Jones fietsgery. Toe haar ouers hoor dat die tweestuks die Cape Epic vir hul dogter gaan aanpak, het dit vir hulle as gesin iets besonders beteken, sê Chánterie se ma, Clarissa.

“Die Epic is een van die mees uitdagende en ikoniese fietsrenne ter wêreld — ‘n wedren wat uiterste krag, uithouvermoë en deursettingsvermoë verg. Die feit dat Wium en Nowlan dit alles ingespan het om Chánterie te ondersteun, is ‘n indrukwekkende bewys van omgee en opoffering,” sê sy.

“Ons is só trots en dankbaar dat hulle dié resies suksesvol en sonder enige beserings kon voltooi,” voeg sy by.

“Hierdie gebaar is ook ‘n weerspieëling van die ongelooflike ondersteuning van die hele gemeenskap wat saamstaan, aanmoedig en Chánterie se stryd deel. Sy staan nie alleen nie, sy word omring deur mense wat regtig omgee,” sê Clarissa.

Die Cape Epic is van 15 Maart tot 22 Maart gehou, en het in Stellenbosch geëindig.

READ ALSO: Cyclists raise R800 000 for children’s surgery equipment

McLachlan sê die tog was vir hom baie spesiaal. “Die ondersteuning langs die pad van almal, van ons vrouens en kinders, was ongelooflik. Dit was ‘n groot ervaring, en dit was moeilik, veral vir my, maar ek was steeds gelukkig, want daar is baie mense, net soos Chánterie, wat baie erger dinge in die lewe moet deurmaak as was ons gedoen het,” sê hy.

Vir McLachlan was dit ook ‘n voorreg om die Cape Epic vir die twee veldtogte aan te pak. Om die Cape Epic suksesvol te kon voltooi en uiteindelik bewusmaking vir By Faith Foundation en Chánterie te kon skep, is ongelooflik bevredigend en iets wat hom vir altyd sal bybly, sê McLachlan.

Clarissa sê in die nabye toekoms sal Divan ook graag self aan die Cape Epic wil deelneem en sodoende die bewusmaking van sarkoomkanker, waarmee McLachlan en Jones begin het, verder laat voortleef.

Nowlan Jones en Wium McLachlan tydens hul deelname aan die Absa Cape Epic

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article