Jong leiers van drie Wes-Kaapse skole het op 19 Maart waardevolle leierskapsvaardighede by AfriForum Jeug se jaarlikse Toekomsskeppers-geleentheid by Akademia se Paarl-kampus geleer.
Leerders en onderwysers van die Hoërskool Parel Vallei, die Hoërskool Bellville en DF Akademie het die spoggeleentheid, wat daarop fokus om hoërskoolleiers vir huidige en toekomstige leierskapsrolle toe te rus, bygewoon.
Danie Rossouw, ‘n senior prokureur en uitvoerende konsultant met meer as 30 jaar se ervaring, het as gasspreker opgetree en drie kernbeginsels van goeie leierskap gedeel:
Begin iets deur die een ding te doen wat jy lankal uitstel, hou jou woord omdat jou karakter aan jou beloftes gemeet word, en help iemand groei deur die mentor te wees wat jy self nodig gehad het.

Die jong leiers het ook die geleentheid gekry om met mekaar te gesels en waardevolle verhoudings te bou – ‘n kernaspek van die Toekomsskeppers-inisiatief.
Tradisie wat groei
“Hierdie geleentheid het die afgelope paar jaar hier in die Wes-Kaap byna ‘n tradisie geword en ons weet die skole sien elke jaar hierna uit. Die uitwerking wat dit op jong leiers het, is sigbaar. Wanneer hulle hier uitstap, is hulle met nuwe kennis en ‘n hernude gevoel van verantwoordelikheid toegerus ,” sê Yvonne Gerber, ‘n jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Gerber voeg by: “Die toekoms van ons gemeenskappe lê in die hande van jong mense wat bereid is om verantwoordelikheid te neem en ‘n verskil te maak. Toekomsskeppers bied hulle daardie ruimte om te kan groei, te leer en mekaar te inspireer.”
AfriForum Jeug bly daartoe verbind om platforms te skep waar jong mense toegerus word om met selfvertroue en integriteit leiding te neem.





