Suid-Afrikaanse motoriste sal van Woensdag 4 Maart dieper in hul broeksakke moet krap by die petrolpomp as voorheen.
Die minister van minerale en pertroleumbronne het vandeesweek ‘n styging in die brandstofprys aangekondig – ‘n prysaanpassing wat gebaseer is op huidige plaaslike en internasionale faktore.
Luidens mediaberigte is die spanning tussen die VSA en Iran een van die faktore wat daartoe bydra.
Volgens ‘n verklaring deur die departement van minerale hulpbronne en energie is die huidige verhoging te wyte aan die prys van ru-olie, die prys van internasionale pertoleumprodukte en die rand/dollar-wisselkoers.
Die hoër skeepstariewe en die geopolitieke onsekerheid wat deur die spanning tussen die twee lande in die Midde-Ooste heers, kan ook lei tot ‘n onderbreking van die verskeping van ru-olie in die Straat van Hormuz, lui hul verklaring.
Albei grade petrol (93 en 95 ULP en LPR) styg met 20c/l, terwyl diesel tussen 62c/l en 65c/l duurder sal wees.
Paraffien sal ook 44c/l meer kos.
Internasionale oliepryse het met meer as 42% gestyg, word berig.





