Luna Paige, sangeres en liedjieskrywer, se nuurste enkelsnit, “Die Oral” is op Vrydag 6 Februarie amptelik op verskeie musiek-platforms vrygestel.
Die nuwe snit volg ná die sukses van haar vorige somervrystelling, “Rustyd & Herhaal”.
Paige sê “Die Oral” is ’n roerende lofsang vir menslike konneksie en dien as ’n voorsmakie vir haar nuwe album, Die Reisigers.
Inspirasie
Die inspirasie vir “Die Oral” het vorm aangeneem op ’n stoep in Porto, Portugal, tydens haar reise in 2024, vertel Paige. Terwyl sy die universele taal van die liefde vanaf ‘n afstand dopgehou het—families wat op die kaai skater tot tieners wat op ‘n hawemure flankeer—is sy diep geraak deur die inherente menslike behoefte aan veiligheid en gebondenheid.
“Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees, herinner jou net weer aan hoe eenders ons almal is en hoe afhanklik ons van mekaar is,” sê Paige. “Ons verloor so maklik dit wat ons as mense bind uit die oog. Ek het die frase ‘everywhere people loving people everywhere’ neergepen, en met my terugkeer na Suid-Afrika het ‘Die Oral’ lewe gekry.”

Produksie
Paige het weer met André Scheepers, vervaardiger en musikant, kragte saamgesnoer om die snit op die lug te kry. Die duo het die oorspronklike vertoningsweergawe verfyn deur met vokale melodieë en instrumentele oorwurms te eksperimenteer. Die snit spog met die kenmerkende kitaarwerk van Henry Steel wat die lied se klank help vorm het. Steel het ook baskitaar gespeel. Paige het ‘n stemstyl wat effens buite haar gemaksone lê vir hierdie opname verken.
Die bekendstelling van “Die Oral” lui die begin van ’n omvattende nasionale toer in. Paige sal tussen 19 Februarie en 22 Maart landwyd toer. Hierdie eerste toer van die jaar kom tot ‘n einde by die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) in Oudtshoorn. Paige sal op 1, 2 en 3 April by Die Windpomp optree.
Hierdie jaar vier die KKNK sy 30ste bestaansjaar—’n mylpaal wat Paige beskryf as “’n groot voorreg om in te deel”. Kort voor die fees sal sy haar derde enkelsnit, “Die Lyf” bekendstel. Die volledige albumbekendstelling vind in September vanjaar plaas.
Optredes
19 Februarie |Die Koelkamers | Paternoster | Koop kaartjies HIER
22 Februarie | Drostdy Teater | Stellenbosch | Koop kaartjies HIER
25 Februarie | Die Boer | Durbanville | Koop kaartjies HIER
27 Februarie | Kreatief | Burgersdorp | Koop kaartjies HIER Verwysing: 27 Februarie + Jou Naam
28 Februarie | Aasvoëlklub | Bloemfontein | Vir besprekings: WhatsApp Hein by 084 559 8991
05 Maart | Centurion Teater | Centurion | Koop kaartjies HIER
12 Maart | Boulevard Teater | Nelspruit | Kaartjies binnekort beskikbaar by Quicket
13 – 14 Maart | Hoedspruit en Dullstroom | Inligting binnekort beskikbaar
20 Maart | The Knoll Historic Guest Farm | Hilton, KZN | Vir besprekings: Whatsapp of SMS Charles Webster by 082 331 7271
21 Maart | Margate / Ramsgate | Inligting binnekort beskikbaar
22 Maart | Seabrooke’s Theatre | Durban, KZN | Kaartjies binnekort by Quicket
01-03 April | Die Windpomp | KKNK | Oudtshoorn | Koop kaartjies HIER
Besoek www.lunapaige.com vir meer besonderhede.





You must be logged in to post a comment.