Luciano Johannes is oor die naweek doodgeskiet.
Luciano Johannes is oor die naweek doodgeskiet.

Die ma van ‘n taxi-werker, wat die afgelope naweek by die Elsiesrivier-treinstasie doodgeskiet is, sê sy sal nie God se werke bevraagteken nie.

Luciano “Choka” Johannes (35) van Bishop Lavis se liggaam is Saterdagoggend by die stasie gekry nadat hy die Vrydagaand glo na sy meisie toe is. Johannes het op taxi’s gewerk.

Onbevestigde gerugte wil dit hê dat die Luciano beroof is voor hy geskiet is, maar die polisie kon dit nie bevestig nie. Sy liggaam was glo sonder sy tekkies gevind

Ma praat

Sy ma, Patricia Johannes, het op haar Facebook-blad geskryf: “Ek gaan jou mis. Ek moet nie God se werke bevraagteken nie, maar die pyn is ondraagbaar.”

Medelye het van oral op sosiale media ingestroom.

Shireen October skryf: “Innige meegevoel aan die familie. Sterkte, Mammie. Jou kind was ‘n sonstraal op die taxi’s. Hy het ouer mense gerespekteer en sy werk met ‘n glimlag gedoen. Hy was soos my eie kind en ons bid dat sy siel in Jesus se heilige naam sal rus.”

Adielah Apoles skryf: “My innige meegevoel aan jou Auntie Pat. My hart het in ‘n miljoen stukkies gebreek toe ek van sy moord hoor.”

Ander het ook hul skok oor die voorval uitgespreek oor Luciano se moord, terwyl baie mense vrae gehad het oor die manier van sy dood. Volgens kommentators was hy nie met bendebedrywighede betrokke nie.

Polisie-ondersoek

Die polisie het by monde van ‘n woordvoerder, konst. Ndakhe Gwala, gesê die voorval word nog ondersoek. “Die Elsiesrivier-polisie het Saterdag (31 Januarie|) omstreeks 08:00 op ‘n klagte oor ‘n skietery op die hoek van Clark-laan en Emms-weg gereageer. Toe hulle op die toneel aankom, het hulle die liggaam van ‘n 35-jarige man met ‘n wond aan die kop en die regterhand gevind. Hy is op die toneel dood verklaar en ‘n saak van moord word ondersoek,” het Gwala gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article