Hierdie week het Radio Tygerberg 104FM ‘n buitengewone mylpaal saam met een van sy omroepers, Gerald Petersen, gevier. Petersen is vandeesweek 30 jaar in die radiobedryf – ‘n oomblik wat min ander nog kon vier. Soos dit ‘n ware radio-veteraan betaam, het hy nie net luisteraars vermaak nie, maar ook ‘n betroubare stem vol positiewe energie en inspirasie geword oor die afgelope drie dekades.
Petersen se passie vir sy medemens en gemeenskap word nie net op die lug gehoor nie, maar word baie dikwels in die gemeenskap gesien en ervaar.
“Hy wil almal net laat glimlag en kyk hoe hy Radio Tygerberg kan help. So het ons eers onlangs uitgevind van die vakansie-Bybelskool wat hy reeds 30 jaar gelede in Ravensmead begin het om kinders in die vakansie besig en veilig te hou. Hierdie Bybelskool is steeds aan die gang en maak elke vakansie nog ‘n verskil in die kinders van Ravensmead se lewe,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder.
In sy tyd by Radio Tygerberg het Petersen baie geliefd onder luisteraars geword – soveel so dat een luisteraar vir hom ‘n kombers gehekel het aangesien hy op die lug genoem het hoe koud die ateljee soms is. Of hy nou ‘n liedjie van ‘n plaaslike kunstenaar of die nuutste aanbiddingslied speel, Petersen weet hoe om sy gehoor te vermaak en betrokke te hou.

Maar sy talente strek veel verder as net die ateljee.
Hy is nie net ‘n geliefde radiostem nie, maar ook ‘n gesoute seremoniemeester. In November 2025 was hy die seremoniemeester by Radio Tygerberg se Mighty Men Cape Flats-geleentheid in Athlone-stadion wat deur duisende mans bygewoon is. Hierdie impakvolle inisiatief is deur Radio Tygerberg georganiseer om vir die einde van geweld en vaderloosheid op die Kaapse Vlakte te bid.
Petersen is ook die aanbieder van die Healing the City-program wat op Woensdae uitgesaai word, waar hy enkele van Kaapstad se mees dringende maatskaplike probleme bespreek, soos vaderloosheid, geslagsgebaseerde geweld, verslawing en bendegeweld. Met sy unieke mengsel van empatie en insig het Petersen onderhoude gevoer met sleutelfigure soos die burgemeester van Kaapstad en voormalige bendeleiers wat hul bendebedrywighede neergelê het toe hulle to bekering gekom het. Deur hierdie gesprekke poog Petersen om ‘n bydrae te lewer tot die genesing van die gemeenskappe op veral die Kaapse-Vlakte, wat deur vele sosio-ekonomiese uitdagings en veral bendegeweld geteister word.
Sy agtergrond as jeugpredikant het hom waardevolle insigte gegee in sy werk, veral toe hy een van die energieke aanbieders van Radio Tygerberg se Vreesloos 2025-program geword het. Die radiostasie het die program na 11 hoërskole geneem, waar leerders bemagtig is deur ‘n reeks aktiwiteite geïnspireer deur bekende programme soos Mr Beast games, Fear Factor, en Survivor. Die doel was om jong mense te help om die lewe sonder vrees aan te pak – ‘n boodskap wat Petersen met groot sukses oorgedra het.
“Ek is bevoorreg. My radioreis het van kortgolf tot FM ingesluit, van gemeenskap- tot kommersiële stasies, aanlyn tot kleinhandel. My radio-insetsels is uitgesaai van Kaapstad tot Lagos en ook op 36 ander FM-stasies. Ek is trots en dankbaar. Dis nie te sleg vir ‘n outjie wat op die Kaapse Vlakte grootgeword het en Afrikaaps en Mengels gepraat het nie,” het hy laggend gesê.
Maar ondanks al die tyd in die kollig, is dit die eenvoudiger dinge in die lewe wat hom die naaste aan die hart lê. Hy is ‘n trotse pa, ‘n gesinsman, en iemand wat groot vreugde vind in kuiers rondom ‘n braaivleisvuur.
“Ons vier nie net sy 30 jaar in die radiobedryf nie, maar ook die bydraes wat hy steeds in die gemeenskap lewer. Baie geluk Gerald Petersen – op nog 30 jaar van inspirasie,” het Van Rooy afgesluit.






You must be logged in to post a comment.