Beroepe soos ‘n mediese dokter of predikant word dikwels as ‘n roeping beskou. Vandeesweek is gesien dat presies dieselfde vir onderwysers geld.
Daarom het Radio Tygerberg se Real Brêkfis-span besluit om onderwysers, wat uiteindelik die helde in skole is, gedurende die eerste skoolweek te bederf.
“Onderwysers speel daagliks so ‘n groot rol in leerders se lewens. Hulle help nie net met die akademie nie, maar gee leiding, tyd, aandag en dissipline en word so `n standvastige rolmodel vir die leerders. Tog bly hulle op die agtergrond, en wanneer leerders presteer, kry die onderwyser nie noodwendig die krediet nie – ten spyte van hul toewyding en ekstra tyd wat hulle ingesit het,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder van Radio Tygerberg 104 FM.
Luisteraars nomineer
Radio Tygerberg het luisteraars gevra om die name van onderwysers te stuur wat ‘n verskil in hul skool of gemeenskap maak. Die inskrywings het ingestroom. Onderwysers van Rawsonville tot Bergvliet en Bridgetown is benoem en uiteindelik is drie helde met ‘n stewige geskenkbewys van Spectra Skryfbehoeftes verras.
Francois Boyce, gewilde omroeper van die Real Brêkfis-program, wat weeksdae tussen 06:00 en 09:00 op die lug is, was die een wat die onderwysers by hul skole verras het.
Die eerste held was Louis Crous van die Laerskool Bastion in Brackenfell. Hy is ‘n geliefde gr. 7-onderwyser en rugby-afrigter wat boonop kinders help wat dit nie breed het nie – uit sy eie sak en in sy vrye tyd.

Verlede Donderdag was dit Heidi van Wyk, wat reeds 23 jaar by die Primêre Skool Silverstream Primêr in Manenberg is. Sy het ‘n passie om kinders wat neurodivers is, te help. Die leerders kry swaar en word gereeld aan bendegeweld blootgestel. Van Wyk was juis amper laat omdat sy ‘n ompad moes ry om by die skool te kom weens ‘n skietvoorval vroegoggend.
Verlede Vrydag was Boyce en Van Rooy reeds vroegoggend by die Paarl-Skool in Brackenfell, waar kinders met fisieke gestremdhede onderrig word.
Hierdie onderwysers is absoluut juwele.
Ronel van Dijk is deur ‘n Radio Tygerberg-luisteraar genomineer. “Hierdie onderwysers is absoluut juwele,” het Boyce gesê. “Ronel is ‘n sprekende voorbeeld van wat iemand met passie vir hul werk kan vermag. Sy is die hoof van die koshuis en die hoof van sport en kultuur by die skool. Sy laat leerders aan die Tygerberg-eisteddfod deelneem; sy het ‘n koor begin wat al tot in Johannesburg getoer het, asook ‘n Courage-eisteddfod vir kinders met gestremdhede. Haar woordeskat bevat duidelik nie die woord ‘ledig’ nie,” het Boyce, wat ook bekend is vir sy sosialemediaplatform “Hoezit Samelewing”, gesê.
“Dit bly vir ons `n voorreg om prakties in ons gemeenskap betrokke te kan wees. Dit is die hart van Radio Tygerberg, vandat ons 32 jaar gelede begin uitsaai het.
“Hierdie onderwysers verdien die erkenning vir wat hulle in hierdie kinders se lewens doen en hoe hulle daagliks die toekoms van ons land vorm,” het hy afgesluit.





