KAAPSTAD – ‘n Leerder van die Hoërskool Scottsdene in Kraaifontein het strawwe persoonlike uitdagings oorkom om uit te blink in haar matriekeindeksamen, in ‘n gemeenskap wat deur bendegeweld en misdaad geteister word.
Cassidy Petersen het `n merkwaardige prestasie behaal deur sewe onderskeidings in haar matriekeindeksamen te verwerf.
Dié uitstaande gr. 12-leerder het `n gemiddelde van 84,7% behaal en kwalifiseer vir B-graad-studie aan ‘n universiteit.
Daar was baie keer dat ek aan myself getwyfel en gesukkel het om gefokus te bly, maar `n biddende moeder het my gemotiveer.
“Die laaste week van my eindeksamen moes ek verhuis en by ander familielede bly weens `n toksiese huishoudelike omgewing. Daar was baie keer dat ek aan myself getwyfel en gesukkel het om gefokus te bly, maar `n biddende moeder het my gemotiveer,” vertel sy.
“Ek was sielkundig uitgeput, maar opgee was nie `n opsie nie. My geloof, gebede en opofferings het my deur die eksamen gedra.”
Cassidy sê sy het aanvanklik vir vyf onderskeidings gemik en het nie sewe verwag nie.
“Ek wil graag dankie sê aan almal by die skool en my familie, veral my ma, vir die ondersteuning. Sy het nooit ‘n diplomaplegtigheid gemis nie en het my altyd gemotiveer om my beste te gee in alles wat ek aanpak.”
Die suksesvolle matrikulant het ‘n liefde vir mense en wil graag ‘n beroep in die mediese veld aanpak.
Cassidy sê sy is dankbaar daarvoor dat sy haar skool se naam kan laat eggo in `n gemeenskap wat vir verkeerde redes bekend is.
Haar toewyding inspireer ander
Die skoolhoof, Peter Links, sê Cassidy was reeds van gr. 8 `n toppresteerder wat jaar ná jaar konsekwent haar beste gelewer het.
“Haar toewyding, dissipline en vasberadenheid dien as `n inspirasie vir haar medeleerders en die hele skoolgemeenskap. Cassidy se sukses weerspieël nie net haar eie uitmuntendheid nie, maar ook die waardes en gees van die Hoërskool Scottsdene,” sê Links.
“Ons is ongelooflik trots op jou, Cassidy, en wens jou alles van die beste toe vir die toekoms. Mag jy steeds nuwe hoogtes bereik en jou drome verwesenlik.”





