Brackenfell-polisievrou se gedig oor kindermishandeling tref wyd

Sers. Charlene Petersen
Sers. Charlene Petersen

`n Plaaslike polisievrou het wye erkenning van die gemeenskap ontvang vir haar aangrypende gedig opgedra aan slagoffers van kindermishandeling.

Sers. Charlene Petersen, wat by die Brackenfell-polisiekantoor se eenheid vir maatskaplike misdaadvoorkoming gesetel is, het die gedig geskryf om bewustheid te skep gedurende die internasionale 16 Dae van Aktivisme-veldtog teen Geweld teenoor Vroue en Kinders, wat op 10 Desember ten einde geloop het.

In die gedig wat in Engels gepen is, skryf sy:
I used to run and laugh, play with
Everyone, make cartwheels op the grass
Until it got dark and I hear my name from afar ,

Now my laughter is gone, my legs trembles with fear and all I want to do is disappear .
I didn’t know the Monster could be so near
I looked up to you, thought one day I could become like you.
But now all I do is run when I see you.
You were supposed to be my hero instead you decided to hurt me so, you have crushed my spirit to Zero
Nobody saw me fade away, they all just looked the other way, now I’m trapped in my own thoughts and op’t know how to really be part of this what you call worId

Werk met vroue en kinders

Sy vertel dat die gedig, wat op 3 Desember in TygerBurger se brieweblad gepubliseer is, geïnspireer is deur haar daaglikse werk met mishandelde vroue en kinders.

“Tydens my stiltetye skryf ek oor sake wat swaar op my hart rus. Die woorde weerspieël die ervaring van mishandelde kinders,” verduidelik sy. “Nadat die gedig verskyn het, het talle mense my gebel – sommige wat hul eie ervarings gedeel het, en ander wat dankbaarheid betuig het.” Charlene werk nou saam met Badisa Kraaifontein om in te gryp wanneer mishandeling rapporteer word.

Volgens haar is kindermishandeling en gesinsgeweld `n alledaagse verskynsel; iets wat op alle vlakke van die samelewing voorkom. Sy verwys na `n onlangse geval waar twee kinders van drie en vyf jaar oud deur hul ma mishandel was, onder hulle pa se oë.

“In dié geval is die kinders deur beide ouers gewaarsku om nie uit te praat nie. Die mishandeling word genormaliseer en die kinders word vertel dat die polisie die ‘monsters’ is. Vir baie kinders is dit normaal dat hul ouers dag en nag skreeu en skel, en hulle geslaan word. Hierdie kinders ontvang geen liefde nie – geen drukkies of liefkosings nie, en nog minder enige vorm van waardering of erkenning.”

Om stil te bly is nie die antwoord nie, en nie in belang van die kind wat nie `n stem het nie.

“Mishandling vind ook plaas in huishoudings waar jy dit die minste sal verwag,” sé sy. “Deur ouers wat geleerd en ‘ordentlik’ is. My mond hang soms oop as ons op dit afkom.” “Wanneer daar ingegryp word, word sulke ouers aangekla weens die mishandeling van minderjarige kinders, wat ook onder die misdaadkategorie van aanranding val. Kindermishandeling het egter ‘n wye spektrum en kan ook verwaarlosing insluit,” sê sy.

“Waar onmiddellike familielede nie die kind kan inneem nie, sal Badisa die kind in ‘n veilige plek plaas,” verduidelik sy. “Die polisie bied ook slagofferondersteuning aan die kinders, met behulp van ‘n groot netwerk vrywilligers.”

Syfers vertel die storie

Haar grootste kommer is dat lede van die gemeenskap en families kindermishandeling óf oor die hoof sien, óf bewustelik versuim om dit aan te meld. “Om stil te bly is nie die antwoord nie, en nie in belang van die kind wat nie `n stem het nie.”

Die Suid-Afrikaanse regering het vanjaar amptelik geslagsgebaseerde geweld en die moord op vroue (GBVF) tot ’n nasionale ramp van die Rampbestuurswet verklaar na bevindinge dat GBVF nou aan die wetlike vereistes van ‘n ramp voldoen weens voortdurende lewensgevare.

Volgens Badisa se jaarverslag vir 2025 is daar gedurende die afgelope boekjaar 2 254 gevalle van kindermishandeling in die Wes-Kaap en dele van die Oos- en Noord-Kaap aangemeld. Altesaam 336 kinders is in pleegsorg geplaas, wat die huidige totaal van kinders in pleegsorg tot 4 180 laat styg het. Addisionele kinders is in versorgingsentrums gehuisves, terwyl 60 nog wag op plasing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article