Die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste is Vrydag na ‘n huisbrand in Sonnendal ontbied, waar ‘n dubbele motorhuis in ‘n vlammehel verswelg is.
Die huis is geleë in Rachel Block-rylaan, Sonnendal.
Volgens District Watch, ‘n private veiligheidsmaatskappy, wat ook op die noodoproep reageer het, is ‘n senior inwoner agter in die huis aangetref waar sy vas aan die slaap en salig onbewus was van wat aan die gebeur is.
“Genadiglik is geen beserings aangemeld nie,” lui ‘n inskrywing op hul sosiale mediablad.
Jermaine Carelse, ‘n woordvoerder vir die Kaapstadse brand-en-reddingsdienste, sê hul diens is om 04:22 ontbied. Spanne van die Goodwood en Epping-brandweerstasies het hulle na die toneel gehaas.
“Die dubbele motorhuis sowel as een voertuig is erg deur die brand beskadig,” het Carelse gesê.
Die brand is om 04:50 geblus.
Volgens District Watch het die een deel van die huis vinnig uitgebrand. ‘n Paar van hul beamptes het ‘n tuinslang gebruik om die vlamme te help blus.





