“Die Ons grootste fondsinsameling, die jaarlikse basaar, vind plaas op Saterdag 6 September vanaf 08:00,” sê Anne-Marie Jordaan, organiseerder van die geleentheid. Sy verduidelik dat die tyd effens aangepas is om rugbyliefhebbers te akkommodeer: “Ons gaan ‘n groot skerm hê waarop die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks regstreeks gekyk kan word.”

Die basaar by Protea-tehuis beloof soos altyd om ‘n fees vir die sintuie te wees. Smulpape kan uitsien na pannekoek, boereworsrolle, wordbroodjies, kerrie- en gewone vetkoek, samosas, springrolls, basaarpoeding, tuisgebak soos koeke, melkterte, beskuit, soet koekies en kolwyntjies.
Vir diegene met ‘n fyn oog vir vars produkte is daar ‘n groente- en blommemarkie met die varsste groente en pragtige proteas. ‘n Koffiekroeg met geurige plaatkoek sorg vir ‘n ekstra bederf.
Unieke en waardevolle artikels
Een van die hoogtepunte is die veiling, waar unieke en waardevolle artikels beskikbaar is. “Ons gaan onder meer ‘n gedeaktiveerde .303-geweer met oorspronklike toebehore, ‘n 1,5l Zevenwacht-wyn, Boplaas-whisky, ‘n 17 kg-lam gesny volgens spesifikasies, Carrol Boyes-bekers, ‘n koekoekhorlosie, meubels, ‘n Mercedes mes-en-vurkstel, asook ‘n uitgehoutjie spieël opveil,” verduidelik Jordaan.

Daar wag nog ‘n verrassingsitem op die publiek: Marcel Roux, huidige Mnr. Suid-Afrika, sal self by die veiling opgeveil word. Die hoogste bieër wen ‘n spesiale Saterdag-ontbyt saam met hom.
Veiling
Die veilingartikels kan vooraf besigtig word op Vrydag 5 September van 10:00 tot 14:00 by Protea-tehuis, Alice Straat 127, Goodwood. Registrasie vir die veiling vind plaas tussen 08:15 en 08:45, en die doel is om dit af te handel voor die rugby afskop.
Vir ‘n volledige lys van items kan belangstellendes vir Anne-Marie Jordaan via WhatsApp by 064 789 5348 kontak.
Deur die dag sal daar ook lewendige musiek in die vierkant wees, en alle geld word ten bate van die inwoners van Protea- tehuis aangewend.







You must be logged in to post a comment.