Die Hoërskool Milnerton het verlede week in Bellville vir die tweede agtereenvolgende jaar koning gekraai in die Noordelike Stadsgebiede se jaarlikse sewemanrugbytoernooi.

Milnerton het in die eindstryd met 29-0 afgereken met Bosmansdam, wat verras het deur die eindronde te haal nadat hy in die halfeindronde met 10-0 teen Melkbosstrand gewen het. Milnerton was in sy halfeindstryd met 19-0 Bellville-Suid se meerdere.

Plaatafdeling

In die plaatafdeling het HS Tygerberg met die louere weggestap. Ná sy halfeindstrydsege van 20-5 oor HTS Bellville, het hy in die eindstryd met 22-17 teen HS Bellville deurgeskuur. Monumentpark was die wenner van die skildafdeling nadat hy De Kuilen in die eindronde met 14-7 geklop het.

Die komende Saterdag word die reeks sewemantoernooie voortgesit wanneer HS Monumentpark en Durbanville die aanbieders is van onderskeidelik die o.15- en o.14-kompetisies. Altesame 16 spanne is betrokke by Durbanville se Peter Buttner-saamtrek, met HTS Drostdy, (die verdedigende kampioen), HTS Bellville, Durbanville en HJS Paarl in groep A; Brackenfell, Paulus Joubert, HS Bellville en HS Tygerberg in groep B; Monumentpark, Stellenberg, Scottsville en die Landbouskool Boland in groep C; Excelsior, Scottsdene, Outeniqua en Paarl Gim in groep D.

In die laaste stuiptrekkings van die uitgedunde ligaprogram die afgelope Saterdag het HTS Bellville ondanks sterk teenstand van Kasselsvlei, tog met 29-20 gewen. Scottsdene was op sy beurt met 17-0 te sterk vir Elsiesrivier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article