Inwoners van De la Haye ook keelvol vir sekswerkers, dwelmhandel in hul buurt

Vroue met min klere staan oop en bloot en hulle 'pimps' is in die omgewing om dop te hou.
Vroue met min klere staan oop en bloot en hulle ‘pimps’ is in die omgewing om dop te hou.

Inwoners van De la Haye in Bellville het ook hul stemme gevoeg by diegene van Oakdale oor die prostitute en dwelmhandel wat oogluikend in hul woonbuurt voorkom.

TygerBurger het verlede week berig oor inwoners van Oakdale wat keelvol is vir sekswerkers in die gebied.

Die strate wat in De la Haye geraak word, is langs Strand-, Van Tromp-, Park- en Linkstrate.

Dieselfde kwessies van prostitusie en dwelmhandel is in Februarie op ‘n gemeenskapsvergadering bespreek. Die Bellville-polisie het ook die vergadering bygewoon, maar tydens die bespreking het die polisie glo niksseggende antwoorde op die vrae gegee.

Derhalwe moes die buurtwag, ‘n private veiligheidsmaatskappy en die inwoners self inspring en die prostitute en dwelmhandelaars uit hul woonbuurt verjaag.

Die Stad Kaapstad het by navraag oor prostitusie in die noordelike voorstede gesê enige misdaad moet by die polisie aangemeld word. Die aantygings dat die wetstoepassingsamptenare anderpad kyk en nie help nie, word in ‘n ernstige lig beskou en ondersoek sal ingestel word.

“Klagtes oor die wetstoepassers se gedrag kan per e-pos aan Wayne.Dyason@capetown.gov.za gerig word of die publiek kan enige nood- of misdaadgevalle aanmeld deur die Openbare Noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 vanaf ‘n selnommer of 107 vanaf ‘n landlyn te skakel,” het Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad Kaapstad se wetstoepassing, gesê.

Oop en bloot

‘n Inwoner in Van Trompstraat, wat anoniem wil bly, sê hy verkies liewer om die komiese in die hele kwessie raak te sien, want dit help nie meer om jou speelgoed met die badwater uit te gooi nie.

“Jy kan sien wanneer die vrou in die motor klim, hoe daar geld verwissel word vir dienste wat gelewer is of wat gelewer gaan word. Nou dink jou net in, jy as wetsgehoorsame burger of wetstoepasser loop hulle trompop en konfronteer hulle. Jy word dan met ‘n kluitjie in die riet weggestuur met die boodskap, “dis geld wat my broer gee sodat ek kos vir die huis kan koop”. Nou wie is ek dan nou om albei se woord in twyfel te trek; ek het mos nie bewyse dat dit nie vir kos nie,” skerts hy.

Ander is net keelvol vir die gemors wat agtergelaat word, soos spuitnaalde en gebruikte kondome wat sommer oop en bloot op straat of enige oop stuk veld lê. Dit baat ook nie daar is LPR-kameras in woonbuurte nie, want motors beweeg in en uit met vervalste nommerplate.

TygerBurger het by Griezelda Grootboom van die NPO Survivor Exit Foundation gaan kers opsteek oor wat die moontlike redes is dat meisies hulle tot prostitusie wend en of dit gepaardgaan met geslagsgebaseerde geweld en mensehandel.

‘Maklike uitweg’ of mensehandel

“Mensehandel is ‘n groot probleem en veral ná die Joshlin Smith-voorval en die nuusdekking oor die verhoor, is baie mense bewus daarvan. Baie meisies, veral van die platteland, word na die stad gelok met die belofte van ‘n werk en wanneer hulle dan wel in die stad aankom, is daar geen werk nie en kan hulle in prostitusie verval. Sommige meisies gaan op sosiale media op aanlyn-webtuistes op soek na ‘n kêrel en word ‘n rat voor die oë gedraai met beloftes van werk en is dan later ‘n slagoffer van mensehandel.

“In ander gevalle word die meisies genooi na klubs waar dwelms en alkohol vrylik vloei en word dwelmverslaafdes, of hulle word met mooi woordjies omgekoop en val dan in die mensehandelstrik,” sê Grootboom.

Met die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug, groepsdruk en om van hul huislike omstandighede te ontsnap, soek meisies na ‘n maklike uitweg en die werk wat dan aangebied word, beskou hulle as ‘n uitkoms.

“Ons is almal bewus van hoe groepsdruk werk. Jy word gevra by watter skool is jy, wat jy aantrek en waar jy woon, en jy wil ‘in’ wees by die gewilde meisies in jou vriendekring. Die buitestanders besef nie eintlik waarvoor hulle hul inlaat as hulle deel van die vriendekring wil wees nie. By skole en in ons gemeenskappe is daar nie genoeg veiligheidsmaatreëls in plek om ons jong kinders te beskerm nie. Prostitusie en mensehandel word net aan die groot klok gehang wanneer daaroor in die media berig word. Dan wil ouers of die gemeenskap wakker skrik en vrae vra.

Sosiale media

“Ouers moet altyd bewus wees waar hul kinders is, wat hulle doen en watter soort vriende hulle het. Ek is ook bewus van die feit dat in die tyd waarin ons nou leef, is ouers besig, want hulle het baie ysters in die vuur en sien nie altyd wat hul kinders doen nie. Ouers is ook nie altyd bewus van wat hul kinders op sosiale media doen nie, want die kinders het ‘n ekstra sosialemedia-rekening, waarvan die ouers onbewus is,” sê Grootboom.

Sy beveel aan dat ouers meer tyd met hul kinders deurbring, hoewel daar nou ‘n nuwe tendens is waar kinders tussen 23:00 en 02:00 op TikTok is. Dis waar die mensehandelaars toeslaan en die tieners voorberei om later verkoop te word.

Lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van Bellville-polisiekantoor. het by navraag gesê dat prostitusie nie alleen gebeur nie.

“Prostitusie kan gepaardgaan met geslagsgebaseerde geweld, want as die meisies nie genoeg geld vir die ‘pimp’ inbring nie, word hulle aangerand. Die klagte van aanranding word nooit by die polisie aangemeld nie, uit vrees dat hulle hul ‘werk’ en in die meeste gevalle, ook hul verblyf sal verloor. Dit is ‘n bose kringloop van omstandighede,” sê Nimb.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article