Hy wou eendag ’n prokureur word, want hy wou vir sy ouers ’n groot huis koop sodat hulle bo hul huidige omstandighede kon uitstyg.
Hierdie droom van die 15-jarige Leevin Leroy Kampher van die Stofland informele nedersetting in De Doorns sal egter nooit ’n werklikheid word nie omdat hy Dinsdagmiddag (14 Januarie) – ’n dag voor die skole amptelik sou heropen – ’n waterdood gesterf het.
Leevin, ’n leerder verbonde aan Hexvallei Senior Sekondêre Skool, sou vanjaar met graad 10 begin het.
Die seun se hartseer-ma, Lizel Fransman (35), vertel dat sy die dag van die voorval by die werk was toe haar verhuurder, André Jaftha, haar man, Francisko Fransman (26), bel met die nuus dat Leevin in die padstaldam verdrink het. Francisko is Leevin se stiefpa.

Lizel en Francisko werk saam op ’n plaas in die BoVallei in De Doorns.
Volgens Lizel het sy onmiddellik Jaftha se vrou, Caroline, gebel om te bevestig of haar seun wel verdrink het.
“Caroline kon nie praat nie en het die heeltyd net gehuil en gesê: ‘Kom huis toe’.
“Ek en Francisco het ’n lift gekry met ’n lorrie tot in die dorp. Ons het by Pep afgeklim en verder gestap huis toe.”
Lizel sê toe hulle by die huis aankom, toe sit die agt kinders wat saam met Leevin by die dam was, vir haar en wag by haar gestremde ma, Siena van der Merwe (62).
Die kinders het die klere wat Leevin aangehad het saamgebring.
Volgens Lizel was haar ma in ’n toestand. Sy (Lizel) vertel sy het Leevin se klere gevat, teen haar vasgedruk en aanhoudend gehuil.
“Die kinders vertel dat Leevin gegly en in die dam geval het.
“Hulle het toe bottels in die dam gegooi om hom te probeer red, maar dit het nie gehelp nie.
“Die een seun het toe op ’n klip plat op sy maag gaan lê en sy hand na Leevin uitgesteek.”
Volgens haar het Leevin verder in die water afgesak toe die seun sy greep op hom (Leevin) verloor het.
“Een van seuns het toe in die dam gespring om vir Leevin van onder af op te bring, maar hy kon nie, want Leevin het verder in die water afgesak.
“Twee van die ander outjies het toe in die dam gespring om na Leevin te soek, maar Leevin was toe nie meer op die plek waar hy afgesak het nie.
Volgens Lizel het sy en Leevin se biologiese pa, Vernon Smit, afgesit na die dam waar hy verdrink het.
“Elrico [Kampher] my oudste seun was ook op die toneel. Hy het die heeltyd net sy kop vasgehou.
“Toe hulle [die polisieduikers] my kind se lyk in ’n sak na bo bring, het ek twee keer geskree: ‘Leevin! Leevin!’, toe word ek flou.
“Toe ek bykom toe hoor ek hoe Vernon huil.”
Lizel sê toe Leevin se lyk voor ’n bakkie neergelê word, het Smit aangedring dat hulle hom sien.
“Toe hulle die sak [waarin Leevin geplaas was] oopmaak, het hy gelyk soos een wat slaap.
“Ek het hom aanhoudend gevra: ‘Ai, Leevin, hoekom het jy dan gaan swem?’”
Volgens Lizel kon Leevin nie swem nie en was hy voorheen ook nog nooit by daardie dam nie.
Sy sê haar seun was ’n groot aanhanger van Michael Jackson.
Volgens haar het hy gereeld soos die pop-ikoon aangetrek en sy danspassies nageboots.
Lizel sê Leevin was ook baie lief vir gedigte skryf. “’n Onderwyser het ’n foto geneem van een van sy gedigte en dit gelamineer.”
Volgens die ma was haar seun ook te sien in ’n kortverhaal wat in Stofland opgeneem is.
Lizel sê sedert Leevin se dood slaap sy maar sleg.
“Ek hoor hom nou nog roep by die deur met ’n sagte stemmetjie: ‘Mammie, mammie!’, dat ek die deur vir hom moet oopmaak.”
Volgens Lizel het sy haar seun nog belowe dat sy vir hom vir sy verjaardag op 26 Februarie ’n nuwe selfoon gaan koop.
“Leevin was ’n baie stil en liefdevolle kind. “Ons was baie lief vir Leevin. Hy was sy pa se oogappel.”
Leevin word ook oorleef deur ’n jonger broer Conan (11).






You must be logged in to post a comment.