Talle wyndruifprodusente en wynmakers het reeds met vanjaar se parsseisoen begin, terwyl ander vandeesweek volstoom begin.
Produsente is in die algemeen positief oor vanjaar se oes, hoewel die wyndruifbedryf dit eens is dat vanjaar se oes kleiner gaan wees.
“Boere is mense van hoop, en as daar hoop is, is daar lig,” sê Peter Pentz, kommunikasiebestuurder van Groote Post Vineyards naby Darling, oor vanjaar se parsseisoen, wat op ’n positiewe noot begin het. “Die nuwe parsseisoen is simbolies tot ’n nuwe begin, en ’n lekker atmosfeer heers by die kelder,” vertel hy opgewonde terwyl hulle in die middel van hul nuwe parsseisoen is.
Groote Post het op 2 Februarie vanjaar met hul wyndruifoes vir 2023 begin. Hulle het eerste met die kultivar pinot noir vir hul besonderse vonkelwynreeks, Cap Classique, begin.
Pentz sê die wyndruifbedryf is oor die algemeen vanjaar af wat tonnemaat betref, maar die gehalte “lyk baie goed”.
“Die pinot noir en chardonnay se gehalte lyk baie goed met baie goeie gekonsentreerde sappe.” Volgens hom is hulle positief oor vanjaar se oes, te midde van die struikelblokke wat die bedryf met onder meer beurtkrag ervaar. “Beurtkrag het ’n regstreekse uitwerking op produksiekostes, maar ons hanteer dit so goed as moontlik.”
Hoewel die oes vanjaar ’n bietjie later as gewoonlik begin het, begin die einde van Januarie deesdae die norm raak vir die nuwe oesjaar.
Martin (Marras) Lampbrecht, ’n wynmaker by Marras Wines, sê hoewel dit lyk asof die druiwe vanjaar minder is, is hulle ook positief oor die komende oes en gehalte daarvan. Hulle begin egter eers vandeesweek pluk.
“Dit lyk asof alles vanjaar gelyk gaan ryp word,” voeg hy by.
Jacques Theron, ’n wynmaker by Riebeek Valley Wine Co. in Riebeek-Kasteel, sê hoewel hulle positief is oor vanjaar se oes, verwag hulle ’n kleiner oes as die vorige jaar. “Waar die wynkelder se wynmakers aanvanklik voorspel het dat ’n afname van 10% verwag word, lyk dit tans meer na ’n 20%-afname.”
Theron skryf dit toe aan ’n seisoen waartydens kultivars vroeër ryp is, ’n swakker winter en geen noemenswaardige hittegolwe nie.
Hy sê egter die gehalte van die wyndruifkorrels lyk baie goed.
Hulle verwag ook dat alle kultivars vanjaar gelyk reg gaan wees. Die chardonnay is reeds klaar gepars, terwyl die kelder vandeesweek volstoom met die pinotage- en shiraz-wyndruiwe sal voortgaan.
Volgens Theron gaan dit ’n vinnige oes wees.
Riebeek Valley Wine Co. het vanjaar sowat sewe dae vroeër as die vorige jaar begin oes.



