Talle boeke is al geskryf oor die vordering van die verouderingsproses. Skrywers vertel onomwonde hoe elkeen van hulle ouderdom ervaar.

In

Spertyd

skryf Elsa Joubert oor die lewe van oumense, en verlies in verskillende vorme: “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumensgeboue wees. Elkeen kom hierheen omrede verlies. Óf sy lewensmaat, óf sy gesondheid. Of ’n lam been of ’n beskadigde kop – ’n kop wat soos ’n gieter met lekplekke is.”


Besonder frustrerend is die verlies van woorde en gedagtes. Dit gaan gepaard met ’n nuwe perspektief wat ontwikkel moet word, die besef “jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby”. Jy het ’n randfiguur geword.

Die proses van ouer word

In die voorafgaande vertellings deur skrywers oor hul persoonlike ervarings van ouderdom en die uitdagings daaraan verbonde, het ek die gevolgtrekking gemaak dat “ouderdom” slegs vir deurwinterde mense met ’n fyn lewensbalans, ’n oop kop met nugtere denke, en ’n onuitputbare humorsin oorleefbaar is!

Die gemeenskaplikheid van die ervaring van geweldige verliese is seker die mees algemene kenmerk van die oudwordproses.

Aanvanklik is dit die verlies van status en inkomste by aftrede, later die verlies van gesondheid, mobiliteit wat lei tot die verlies aan jou jare lange woonplek, diere, nog later die verlies van bekendes en familie wat kan lei tot eensaamheid. Liggaamlike verliese in terme van gesondheidsprobleme lei tot verswakking, verlies aan mobiliteit en aftakeling van die menslike liggaam. Die somtotaal van die voorafgaande lei tot groter afhanklikheid van hulp – hulp van hulpmiddels, mense, toerusting soos gehoorapparate, loop-apparate en nog meer. Aanvanklike onafhanklike woon en selfversorging word opgevolg deur tuisversorging deur kundiges, later opname in ’n versorgingsfasiliteit of tehuis vir ouer mense, met die opname in ’n 24-uur-per-dag-versorgingsentrum as laaste heenkome. Hierdie vooruitskouing van die verouderingsproses en die implikasies daarvan kan baie donker vir die gemoed wees, en is die persoonlikheid en gesindheid/houding van die individu van kardinale belang.

Hoe mense oor ouderdom dink, gaan bepaal watter uitwerking dit op hulself, die mense om hulle, en die toekoms gaan hê. Om bekommerd, angstig en depressief te voel, is menslik en ’n natuurlike reaksie op onsekerhede of verlies-ervarings. Krisisse en moeilike tye verander mense, hul verhoudinge en toekoms óf ten goede óf ten kwade. Dis belangrik om ouderdom as ’n geleentheid te beskou om die beste in jou na vore te bring, om weer vanselfsprekende dinge te waardeer en sekere dinge beter te doen.

Die geskiedenis het ons geleer dat ná elke geweldige krisis vir die mens of natuur lê ’n nuwe tyd van opbou, herstel en dikwels versnelde of anderse groei voor. Die mooi en karaktervolle bome het dikwels swaar gekry; in hul moeisame verskrompelde kronkels en boë, lê hul sterkte én prag.

Ons beleef ouderdom op ’n manier as ’n woestyn-ervaring, ’n gestrooptheid van die bekende manier van doen, dink en wees. Dit kan vir ons juis ’n tyd van visie, heling en stilte word . . . ’n tyd waarin jy tot inkeer in jouself kan kom; ’n tyd om te begin om in ’n ander rat te lewe – stadiger en rustiger. Dit is ons geleentheid vir meer tyd vir mekaar, vir dink, wonder, besin, lees . . . om dié dinge te doen waarby ons net nooit uitgekom het nie. Dit kan ook ’n kreatiewe tyd van ontdek wees – jou eie innerlike sterkte, aanpassingsvermoë en kreatiwiteit om nuwe dinge te skep of te leer.

Ouderdom verg ’n nuwe manier van wees, van leef en dink

Neem verantwoordelikheid vir jou fisieke, finansiële en veral ook emosionele en spirituele welstand. Wanneer jy voel jy kan nie meer jou eie geldsake hanteer nie, vra die hulp van jou kinders of finansiële kenners.1. Dink verder as die nou en jou eie belang. Dink in terme van onmiddellike behoeftes en noodsaaklikhede, maar ook aan die toekoms en volhoubaarheid daarvan vir jouself.2. Groei of gaan onder. Wees pro-aktief en doen nou dinge om jou lewe beter te maak.3. Fokus op wat nou binne jou beheer is – wat jy nóú kan doen.4. Hou kontak met jou mense en gebruik die tyd om verhoudinge met hulle te versterk en te bou via elektroniese en ander telekommunikasie-media tot jou beskikking. 5. Maak seker dat jy ’n positiewe ingesteldheid het – dit maak die verskil wat jou anders laat dink, optree en die mense om jou positief maak en hou.

Om gelukkig in jouself as mens te wees, is belangrik

Vermy die depressiewe leefstyldinge, soos:. om ure net niks konstruktiefs te doen nie;. jou van mense te onttrek en net in jou kamer te bly, of niks van jou te laat hoor nie;. toelaat dat jou dae en gemoed deur die negatiewe inligting in die media beïnvloed word, of net daaroor te praat en te dink;. jou persoonlike versorging afskeep nie.

Om emosioneel en fisiek gesond te bly moet gewone, goeie, positiewe roetines in stand gehou word:1. Slaap: Maak seker jy slaap goed en genoeg.2. Eet: Eet gesond en genoeg. 3. Oefen: Wees kreatief en bedink nuwe en ander maniere om te oefen – klim trappies, of gaan stap saam met ’n vriend/vriendin waar dit veilig is.4. Wees netjies op jouself en jou omgewing. Versorg jou keurig – dit laat ’n mens goed voel.5. Doen lekker dinge waarvan jy hou. Wees goed vir jouself!6. Sorg vir die verhoudinge in jou lewe – belê in vriendskappe; doen lekker dinge saam met vriende of kennisse, speel speletjies, speel kaart, bou legkaarte, hou vasvrae . . . maar doen dinge sáám. Maak ’n afspraak met vriende – trek jou mooi aan en kuier, drink saam koffie of ’n glas wyn, nooi hulle na jou woonstel of kamer oor. Maak afsprake met mekaar en fliek voor die TV met springmielies, luister musiek, of gesels net. Sáámdoendinge keer die gevoel van alleenheid. Só hou jy jouself emosioneel gesond.7. Kommunikeer via die internet of telefoon met jou vriende en familie elders: e-posse, telefoonoproepe, gesprekke op WhatsApp, skryf briewe. Wees dankbaar vir wat jy steeds in jou omstandighede het. Skryf dit daagliks neer, en sê dit vir ander: Ek is dankbaar vir die ruimte en gemak van my woonstel/kamer, water, elektrisiteit, my uitsig, vir mense wat vir my omgee, my toegang tot mediese sorg indien ek siek sou word, vir kos, vir die natuur, die seisoene daar buite.8. Maak ’n lys van dinge wat jy wil – en kan – doen. En merk af wat jy al gedoen het. Dit gee ’n mens genoegdoening as jy iets bereik en vermag.9. Gebruik jou sin vir humor. 10. Maak met kreatiwiteit jou omgewing interessant en anders. Skuif jou kamer, dinge teen jou mure, steek ’n paar vars blomme in, bad/stort by kerslig. Pak jou kaste reg sodat dit meer verbruikersvriendelik is. Gee weg wat jy nie gebruik nie.. Lydia Corbett is ’n maatskaplike werker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article