Die 15 oorblywende Palmbome, van die 21 oorspronklike Palmbome op Robertson-Stasie wat spesiaal vir Prinses Elizabeth se 21ste verjaarsdag geplant was.


Die onlangse afsterwe van die Britse monarg koningin Elizabeth II, het talle weer laat terugdink aan haar noue band met Suid-Afrika en veral die besoeke wat sy as jong prinses aan Suid-Afrika afgelê het. Sy het selfs ’n paar weke voor haar dood vir oulaas nog ’n brief aan Worcester gerig en het ’n diep en ryke geskiedenis met Robertson ook.

In die geskiedenis van Worcester en Robertson het mense van heinde en verre hierheen gestroom om die hoëprofielgaste in drie baie groot besoeke aan die dorpe te sien en te groet. Die eerste was koning Edward se besoek in 1937, toe hy nog die prins van Wallis was. Die tweede was die koninklike gesin – koning George VI, koningin Elizabeth, prinses Elizabeth (later koningin Elizabeth II) en prinses Margaret – se besoek met die Wittrein in 1947. Die derde was President Nelson Mandela se presidensiële besoek op die inhuldigingsrit van die nuwe Bloutrein in 1997.

Die koninklikes se besoek aan Robertson in 1947 het vandag nog ’n invloed op die geskiedenis van Robertson.

Volgens ’n ou berig in Standard word gereken tot ’n duisend motors het die Wittrein die hele pad tussen Worcester en Robertson agtervolg.

Dit trein het in Robertson gestop en die koninklike gesin het daar afgeklim en mense op die Robertson-stasie gegroet. Die destydse burgemeester van Robertson het groot ruikers blomme aan koningin Elizabeth en die twee prinsesse oorhandig.

Aangesien die Wittrein slegs 15 minute op die Robertson-stasie stilgehou het, het ’n afwagting onder die skare ontstaan om die koninklikes in lewende lywe te sien. In almal se gretigheid om die koninklikes te groet, het die skare op die Robertson-stasie omtrent vuisgeslaan om ’n kykie te kry, en in die proses het vyf vroue flou geword.

’n Ry palmbome – altesaam 21 – is oorkant die Robertson-stasie geplant ter ere aan prinses Elizabeth se 21ste-verjaarsdag ’n paar weke later op 21 April. Vandag staan 15 van daardie palmbome nog, en ’n mens kan hulle duidelik sien as jy met Voortrekkerweg deur Robertson ry.

Koningin Elizabeth het met die skare gepraat, en sy wou by een van die vroue, wat ’n baba by haar gehad het, weet: “Is the sun not too hot for your baby?”

Een ouerige vrou het haar hand na die koning uitgesteek en gesê: “Dag, my koning.”

Van Robertson is die Wittrein na Ashton, Swellendam, Buffeljags, Heidelberg en Riversdal, waar die trein ook oral gestop het om mense op die stasies te groet.

Vandag staan die Gospel Express-stoomtrein met sy ou passasierstrokke tussen Worcester en Robertson, by Vinkriviersylyn. Dié SAR- Klas 15CA Nommer 2828, ’n North British Locomotive Company-lokomotief, wat in 1929 gebou is, het ook ’n Wittrein-konneksie. Hierdie spesifieke lokomotief is op ou foto’s as stootlokomotoief te sien waar sy die Wittrein van Witbank na Pretoria aanhelp (van agter af stoot) en waar sy op 29 Maart 1947 die Pretoria-stasie instoom. Nadat hierdie lokomotief vir jare by Dal Josafat gestaan en roes het, is sy in ongeveer 2004 deur ds. Adriaan Kuiper gered en na Vinkrivier gebring. Hier is dus nog ’n interessante koninklike konneksie in die Robertson-omgewing.. Hierdie berig is geskryf uit inligting wat deur dr. Julian Kritzinger, ’n raadslid van die Breedevallei-munisipaliteit, versamel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article