Die Shoprite Usave en twee aanliggende winkels in dieselfde gebou in Mimosaslot in Sarepta is Vrydagoggend (24 Junie) in ’n brand beskadig.
Volgens nabygeleë inwoners met wie TygerBurger gesels het, het die meeste omstreeks 06:30 bewus geraak van die gebou wat brand.
Teen 10:00 toe Wouter de Vos, wyksraadslid, ’n videoboodskap van die toneel uitgestuur het, het hy gesê die brand was goed in bedwang, maar nog nie heeltemal geblus nie.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweerdiens, het gesê die Stad se nooddienste het om 07:05 gereageer op die oproep oor ’n gebou wat brand.
“Die eerste beampte van die Kuilsrivier-brandweer wat op die toneel aangekom het, het bevestig dat die gebou aan die brand is en vir bystand gevra. Ons het brandweerspanne van Kuilsrivier, Belhar, Epping, Brackenfell, Bellville en Goodwood op die toneel gehad met ongeveer 40 brandweerbeamptes.
“Die spanne is om 09:00 deur ander spanne afgelos wat aan diens gekom het,” het hy gesê.
Carelse het Vrydag gesê die Cash & Carry-winkel en die selfoonwinkel net langsaan is die ergste beskadig terwyl die Usave gedeeltelike skade opgedoen het. Geen beserings is aangemeld nie.
Die brand was net voor 13:00 geblus. Carelse het gesê die oorsaak van die brand word ondersoek.
Die eienaar van die Cash & Carry (wat verkies om anoniem te bly) het op die toneel aan TygerBurger gesê dit wil voorkom of die brand moontlik binne die gebou kon ontstaan het.
Die eienaar se seun het gesê die skade aan dié winkel is uitermatig.
Kol. Jayce Naidoo, stasiebevelvoerder van die Kuilsrivier-polisie, het by navraag gesê volgens hul inligting het die brand ontstaan weens ’n elektriese fout.
Shoprite se mediakantoor het Maandag by navraag geantwoord “die kettingwinkelgroep kan bevestig dat ’n brand, wat vermoedelik in ’n aanliggende winkel begin het, na die Usave Sarepta versprei het op Vrydagoggend 24 Junie. ’n Volledige ondersoek en opruimoperasie is aan die gang om die omvang van die skade te probeer bepaal.”



