Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die Swartland-munisipaliteit verlede Woensdag besoek waar hy lede van die streek se K9-eenheid en landelike veiligheidseenheid ontmoet het. Volgens hom is veiligheid ’n groot prioriteit vir die Wes-Kaapse regering.
Winde het ook op sy besoek ’n draai by die plaaslike kliniek en die biblioteek op Abbotsdale gaan maak, vergesel deur die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, die onderburgemeester Anet de Beer en plaaslike raadslede.
Winde het die geleentheid gebruik om die personeel uit te vra oor die behoeftes en grootste uitdagings by elke fasiliteit. Daarna is die strate ingevaar waartydens hy met plaaslike inwoners van die Abbotsdale-gemeenskap gesels het. Kwessies soos werkloosheid het onder meer opgeduik, wat onmiddellik aandag kon geniet.
Die premier het kort daarna ’n padblokkade in samewerking met plaaslike wetstoepassers, provinsiale verkeersdepartement en die Suid-Afrikaanse Polisiediens buite Malmesbury bygewoon, waar hy met padgebruikers gesels het.
Winde is gedurende die geleentheid aan twee plaaslike lede van die Swartland-munisipaliteit se K9-eenheid, Champ en Sky, wat beide in die uitsnuffel van dwelmmiddels opgelei is, voorgestel. Winde het sy besoek as “baie spesiaal” beskryf nadat hy gesien het watter fantastiese werk die Swartland-munisipaliteit se landelike veiligheidseenheid en hul K9-eenheid doen om inwoners se veiligheid te verseker.
“Die afname van misdaad in ons provinsie hang af van inisiatiewe soos hierdie. Die Wes-Kaapse moordsyfer het volgens syfers wat pas bekend gemaak is, afgeneem.
“Ons het nog baie werk om te doen, maar ons maak vordering. Baie dankie aan die hele span, veral die K9-beamptes Sky en Champ, vir hul fantastiese werk,” het Winde na afloop van sy besoek gesê.
Volgens hom is dit ’n eer om met almal wat die provinsie en sy inwoners help beveilig en beskerm, te skakel.



