Die vermoorde Hendrik Pistorius

Credit: SYSTEM

Verskeie invloedrykes en instansies vra dat die minister van polisie voorkeur moet gee aan die moord op ’n boer van Piketberg.

Die boer se lyk is Woensdag 4 Augustus deur plaaswerkers op sy plaas in die Piket-Bo-Berg gevind nadat hy vermoedelik in die donker oggendure beroof en vermoor is.

Volgens die polisie is Hendrik Pistorius (53) se lyk op sy afgeleë blomme- en vrugteplaas, New Caledonia, in die Bergrivier-distrik, wat sowat 30 km van Piketberg geleë is, ontdek.

Luidens vroeë nuusberigte is Pistorius, wat alleen in die plaashuis gewoon het, se lyk in ’n drom gevind. Die Piketberg-polisie het egter intussen bevestig die lyk is onder ’n plastiekhouer wat vir vrugte gebruik word, gevind.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Frederick van Wyk het gesê Pistorius se beserings dui daarop dat hy ’n hou teen die kop weg het.

Die Piketberg-polisie se verslag aan Weslander het verduidelik Pistorius is met ’n stomp voorwerp agter teen die kop en in die gesig geslaan.

Die polisie glo die motief vir die moord was roof, aangesien geld uit Pistorius se lessenaar weg is.

Volgens Van Wyk is die skuldige(s) steeds soek. Leidrade en inligting wat opgevolg word, gee die polisie rede om te glo een of twee verdagtes was by die misdaad betrokke.

AO Silke Lourens, ’n woordvoerder van die Piketberg-polisie, het skriftelik aan Weslander bevestig Pistorius se selfoon is wel op die toneel gevind, en vir ontleding na Kaapstad gestuur. Sy beursie is nie gevind nie.

Volgens die verslag word steeds op die eenheid vir georganiseerde misdaad in Kaapstad gewag om die dossier oor te neem, andersins sal die misdaad plaaslik ondersoek word.

Sedert die slegte nuus oor Pistorius se dood Woensdag op sosiale media gebreek het, het verskeie invloedryke individue en instansies die moord veroordeel.

Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het hom sterk teen dié “barbaarse daad” uitgespreek, asook Jannie Strydom, die hoof van Agri Wes-Kaap, en Ian Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid by die organisasie sonder winsoogmerk, Action Society, wat onlangs in die kollig was vir sy openbare konfrontasie met die polisieminister, Bheki Cele.

André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, die Bergrivier-munisipaliteit se naburige munisipaliteit, het ook die moord op Pistorius veroordeel aangesien hy self ’n aktiewe buurtwaglid in sy dorp is en passievol is oor misdaadbekamping, en het gesê “ ’n aanval op ’n boer of werkers is ’n aanval op die land”.

“Omtrent 39% van die poste in ons gebied is in die landbousektor,” het hy verduidelik.

Truter het ook gesê Pistorius, wat ’n girokopter besit het, was ’n lojale lid van die plaaslike vliegklub.

“Ons doen ’n beroep op minister Cele om die moord as ’n prioriteitmisdaad te verklaar.”

Pistorius is deur sy plaaswerkers as ’n “saggeaarde en nederige mens” beskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article