Wilmor Williams met van sy kunswerke. Foto: Bianca Benjamin


’n Jong plaaslike kunstenaar trek aandag met sy unieke uitbeelding van kwessies wat sy gemeenskap raak.

Die 27-jarige Wilmor Williams deel gereeld van sy tekeninge op sosiale media. In ’n onlangse plasing van sy nuutste kunswerk beeld hy twee seuns uit wat saam staan voor ’n gebou met gebreekte vensters en krake in mure.

Hy sê hierdie skildery beteken baie vir hom want dit simboliseer hoop vir elke jong mens daar buite.

Williams is oorspronklik van Malmesbury waar hy skoolgegaan het by onderskeidelik St. Thomas Primêr en Wesbank Sekondêr.

Die jong man skryf sy talent aan God toe en sê die kunsgogga het hom al van kindsbeen af gebyt.

Hy vertel hoe sy twee ouer susters altyd hul skoolboeke vir hom geleen het om daarin te teken.

“Soms het ek net die oorspronklike prente wat in hul boeke was op ’n aparte bladsy oorgeteken.”

Teken was ook sy toevlug op skool omdat hy baie eensaam was en nie baie vriende gehad het nie. Dan het hy maar altyd ’n boek en pen naby gehad en geteken.

Hy het in 2013 sy matriek voltooi maar weens ’n tekort aan fondse kon hy nie verder gaan studeer nie. ’n Vriend se pa wat ’n argitek is, het wel sy talent in sy tekeninge raakgesien en vir hom behoorlike verfkwaste aangeskaf.

“Ek het begin om landskappe te verf en het my eerste portret aan my oudskoolhoof verkoop,” vertel hy.

Volgens Williams het hy later begin huise uitverf, kunsmure (murals) by skole doen, partytjietemas ontwerp asook hemde en skoene met kleurstof (tie dye) te skilder.

Hy sê hy put inspirasie uit die natuur asook uit hedendaagse omstandighede wat sy gemeenskap raak en die emosies wat dit meebring.

Daar is drie spesifieke skilderye wat vir hom tot nou toe uitstaan, nie net omdat dit vir homself ’n persoonlike betekenis het nie maar ook ’n storie vertel aan jong mense wat hulle kan motiveer om bo hul omstandighede uit te styg. Hy sê dit skets die verhaal van hoe dinge vandag is in vergelyking met waardeur hulle voorvaders moes gaan wat armoede en slawehandel betref.

Hy droom daarvan om sy vaardighede in kuns te verbeter deur verdere studies maar meen ’n gebrek aan geld is ’n probleem.

Tog kyk baie van die jeug op na Williams omdat hy hulle ook leer hoe om te teken en hulle ook dikwels na hom toe kom vir advies as hulle sukkel met hul skoolwerk.

Hy sê hy hou daarvan om mense te help wat in nood is en hoop om as hy eendag suksesvol is ook die haweloses te kan voed.

Buiten skilder hou hy ook van snoeker speel en stap.

“Ek is ’n baie stil en nederige persoon wat hou van die natuur.”

Mense wat met Williams wil kontak maak, kan hom skakel by 061 187 2958 (bel of WhatsApp) en sy Facebookblad besoek by “Artist-Prolific Wilmor Williams”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article