Die gedenkplaat wat in Bonnievale Primêre Skool se nuwe wetenskap laboratorium opgesit is.


Die Bonnievale Primêre Skool was verlede Dinsdag die trotse ontvanger van ’n wetenskap-laboratorium wat ten volle toegerus is.

Een van die skool se wetenskaponderwysers, Evelyn Johnson, is baie opgewonde oor hierdie nuwe toevoeging by die skool.

“Ek is betrokke by professor Shaheed Hartley se organisasie, Advancing Knowledge. Ons gaan elke jaar na skole toe waar ons wetenskaplike aktiwiteite aanbied. Ek is hierdie jaar in kennis gestel my skool is ’n begunstigde vir ’n wetenskap-laboratorium. Ek was in ekstase toe ek hierdie nuus ontvang het,” verduidelik Johnson.

Die laboratorium is toegerus met ses tafels wat elk sy eie kragpunt het, 11 wasbakke, interaktiewe wit borde, verskeie apparate en chemikalieë asook store vir die apparate en chemikalieë.

“Ek is veral baie opgewonde vir die leerders wat nou almal van hierdie laboratorium gebruik kan maak, en vir die vrugte wat hulle danksy hierdie laboratorium gaan pluk.”

Bonnievale Primêr se laboratorium was Advancing Knowledge se 94ste en een van sewe wat verlede week geopen is. Twee Worcester-skole was ook die ontvangers van laboratoriums.

In ’n mediaverklaring wat deur Advancing Knowledge uitgestuur is, is die volgende geskryf: “Die vennootskap tussen Advancing Knowledge Non-Profit Company (AK NPC), Garden Cities Archway Foundation en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het voortgegaan met ’n proses om die infrastruktuur waarin STEM-vakke (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) onderrig word, te verbeter deur die oprigting van moderne wetenskap-laboratoriums genoem Science Teaching & Learning Centres (Science TLCs). Altesaam sewe nuutgeboude Wetenskap-TLC’s is op 24 en 25 April amptelik by Wes-Kaapse skole geopen. Die jongste sewe wetenskap-TLC’s bring die aantal wat sedert 2011 by Wes-Kaapse skole opgerig is, op 94 te staan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article