Weskussers word gevra om hul harte en beursies oop te maak om die Fourie-gesin van Gauteng te help waar hulle kan.
Eduard en Petricia Fourie se 17-jarige seun, Eduan, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Porterville, is Donderdag 16 Junie ernstig in ’n fratsongeluk in Melkbosstrand beseer.
Eduard het vertel sy seun en twee skoolvriende het gestap om iets te gaan koop om te eet toe al drie deur ’n voertuig, waarvan die bestuurder beheer verloor het nadat dit teen ’n ander voertuig gebots het, getref is.
Een van die drie maats, Raylan Theron, is die volgende oggend in die Netcare Blaauwberg-hospitaal oorlede. Die ander maat, Chris Tosen, het harsingskudding en gesigbeserings opgedoen, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Die ongeluk het Eduan met verskeie beserings gelaat. Hy is na die New Somerset-hospitaal in Kaapstad geneem en later na die Groote Schuur-hospitaal se hoësorgeenheid oorgeplaas. Sy kakebeen is op minstens drie plekke gebreek, sy regterskouer en knie is uit potjie geruk en ongeveer vyf ribbes is gebreek.
“ ’n MRI-skandering het bepaal die meeste van sy ligamente het afgeskeur. Skanderings het ook gewys hy het weens die gebreekte ribbes skade aan sy longe opgedoen.
“Hy het ook beserings aan sy lewer en niere opgedoen,” vertel Eduard.
“Nadat ons die nuus oor die ongeluk gekry het en gehoor het een is beseer, het die feit dat ons nie geweet het wie nie, ons ongelooflik benoud gehad.
“Ons was verlig toe ons telefonies met hom kon praat. Die feit dat ’n mens 1 500 km ver weg is, laat jou hulpeloos. Die verlies van sy vriend was vir ons ’n groot skok.”
Eduan se ouers woon in Pretoria-Noord en het sonder huiwering dadelik Kaap toe gevlieg om hul seun by te staan.
“Eduan het ’n 14-jarige broer, wat in Pretoria agtergebly het. Sy ouma en oupa kyk na hom. Die kostes om twee huishoudings te onderhou, is astronomies,” het die Fouries gesê.
Die Fourie-gesin het nie ’n mediese fonds nie en moet alle prosedures, hospitaalkostes en fisioterapie self betaal.
“Enige hulp van die Weskus-gemeenskap sal opreg waardeer word. Hierdie is nie ’n maklike situasie waarin ons ons nou bevind nie.”. Enigiemand wat ’n bydrae wil lewer, kan Eduard by 082 320 0480 bel.




