Verskeie mense het hul lewe op Weskuspaaie in Oktober en die eerste week van November verloor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die eerste van hierdie noodlottige botsings op 6 Oktober in die Darling-gebied gebeur. ’n Man van Mitchells Plain en sy vyf maande oue baba het hul lewe verloor nadat iemand in ’n Isuzu-bakkie na bewering oor ’n stopstraat gery en teen hul voertuig gebots het.

Die oggend van 7 Oktober is ’n vrou (25) op die toneel van ’n ongeluk in die Vredendal-omgewing dood nadat die voertuig waarin sy gery het, ’n paar keer gerol het.

Op 8 Oktober het ’n vrou (38) van Velddrif beheer oor ’n voertuig verloor, wat toe die pad verlaat en haar dood veroorsaak het.

Die Malmesbury-polisie het aanvanklik ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek nadat ’n man (51) van die omgewing op 9 Oktober om ongeveer 14:10 deur ’n voertuig raakgery is. Die man het egter op 20 Oktober aan sy wonde beswyk, en die klag is na strafbare manslag verander.

’n Vrou (26) van Piketberg is op 9 Oktober om 19:46 op ’n ongelukstoneel op die Velddrif-Piketberg-afdraai dood verklaar.

Verder is ’n bestuurder (48) weens ’n botsing op 22 Oktober op die N7-Malmesbury-pad in ’n vragmotor vasgekeer en hy het op die toneel gesterf. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

Verder het ’n man (47) van Graafwater op 26 Oktober in ’n gru-ongeluk gesterf nadat hy glo onder ’n trekker aan die slaap geraak het. Die bestuurder van die trekker was onbewus daarvan en het oor die slapende man gery.

Sondagoggend 6 November het ’n man van Lutzville aan sy wonde beswyk nadat die voertuig waarin hy en nog twee passasiers gery het, in ’n botsing betrokke was. Die presiese omstandighede wat tot die botsing gelei het, is nog nie duidelik nie.

Helfrich sê die polisie ondersoek klagtes van strafbare manslag in elkeen van dié gevalle en het die publiek gemaan om versigtig en verantwoordelik te bestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article