Wesbank Sekondêr het onlangs die prys as die WOW- Skool van die Jaar gewen.

Wesbank Sekondêr is reeds sedert 2006 by die WOW-projek betrokke, vertel Cherelle Abrahams van die Toyota US Woordfees. Die Woorde Open Wêrelde (WOW) is ’n bemagtigingsprojek van die Toyota US Woordfees. Kreatiewe programme gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste word deur WOW in skole en gemeenskappe aangebied om leerders en onderwysers se horisonne te verbreed.

Sy vertel hoe passievol Wesbank Sekondêr is. “Die skool pak die WOW-projekte met passie en toewyding aan. Besoeke aan en deelname van Wesbank Sekondêr het nie net oor die jare gegroei nie, maar die skool het ook deel van die jaarlikse US Woordfees geword, vertel sy.

Wesbank Sekondêr is ook deel van die WOW-leeskringe en werk met groot ywer saam met die plaaslike gemeenskap, brei Abrahams uit.

Die skool se leerders neem ook graag deel aan die US Woordfees se Spelfeeste en skrywersbesoeke.

“Die WOW-leerders van Wesbank Sekondêr is ware WOW-rolmodelle en fantastiese ambassadeurs vir hul skool en plaaslike gemeenskap,” sê Abrahams met trots. Volgens haar is dit werklik ’n skool wat deur moeilike omstandighede baie hard daaraan werk om hul leerders op verskillende vlakke aan verrykende Afrikaanse en kulturele aktiwiteite bloot te stel.

“Op hierdie manier dra die skool tot die opbou van die breë skoolgemeenskap by en bied dit leerders die geleentheid om eerstehands te ervaar hoe hul woorde vir hulle wêrelde kan oopmaak.”

Volgens die US Woordfees was produksiestandaarde hoog en mededinging straf tussen werke wat ’n verskeidenheid onderwerpe en kwessies met groot sensitiwiteit en opwindende kreatiwiteit aangepak het.

Die wenners, wat ’n oorkonde en ’n bedrag geld gewen het, het die toekenningsgeleentheid op 10 November by Johannesdal bygewoon.

Juffrou Andelecia Januarie van Wesbank Sekondêr het die prys namens die skool ontvang. Die prysgeld was ’n volle R10 000.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article