Ná sy wegholoorwinning van 53-19 oor Delicious NW Saterdag (4 November) het Wesbank na Worcester gereis om Young Hamiltons in sy agterplaas aan te durf.
Die wedstryd het teen ’n vinnige tempo afgeskop toe die tuisspan uit die staanspoor Wesbank gewys het dat hulle ’n moeilike “dag op kantoor” gaan hê.
Ná een minuut speeltyd het Chad Oosthuizen Wesbank se verdediging oopgevlek toe hy ’n aanval vanuit Young Hamiltons se halfgebied begin het. Dit het gelyk of Ethinique Adams in die regterkantse hoekie gaan oorval nadat hy die bal ontvang en soos ’n vuurpyl afgesit het, maar ’n ongelooflike onderarm aangee na Ashwill Klein het die skare uit hul sitplekke gelig toe hy langs die pale oorduik vir ’n uitstekende drie. Luciano Truter het egter met die doelskop misluk, maar dit het Young Hamiltons ’n voorsprong van 5-0 gegee.
Die skare is met opwindende rugby getrakteer totdat Wesbank sy eerste punte met ’n strafskop deur Dillon Strydom op die telbord geplaas het. Al twee spanne se dissipline was uitstekend, maar Young Hamiltons was net te oorhaastig en is ’n paar keer deur die skeidsregter gewaarsku.
Wesbank het die laaste vyf minute in Young Hamiltons se 22-m-gebied geboer, maar te veel hanteerfoute deur sy spelers as gevolg van Young Hamiltons se uitstekende verdediging het verhoed dat hy meer punte kon aanteken. Toe die skeidsregter rustyd aandui, was die telling steeds 5-3 in Young Hamiltons se guns.
Harde woorde is tydens rustyd deur beide afrigters met die spelers gedeel, en ná drie minute se spel in die tweede helfte het Maxville Nero vir Wesbank ná goeie samespel deur sy voor- en agterspelers agter die pale gaan kuier.
Wesbank het stadig maar seker al beter begin speel en sy voorsprong ná 13 minute verder vergroot toe Matthew van der Westhuizen sy span se tweede drie ná ’n vasteskrum in Young Hamiltons se 22-m-gebied, gedruk het. Strydom het geen fout gemaak nie en twee punte bygevoeg vir ’n voorsprong van 17-5.
Young Hamiltons het egter ’n losbal by Wesbank in sy halfgebied afgeneem en Larren Buys het Ethinique Adams met ’n suiwer aangee oorgestuur vir hul tweede drie. Twee vinnige drieë deur Rowayne Ruiters en Ghanton Ceaser het die skaal in Young Hamiltons se guns geswaai met 24-17.
Wesbank het Young Hamiltons stadig maar seker inkatrol en toe die uitklophou in die laaste 10 minute geplant toe Branden Appolis en Gavern Skippers twee onverdoelde drieë gaan druk het. Wesbank se dissipline het hom egter deurgedra teen Young Hamiltons op Hamiltonpark in Worcester om die wedstryd 27-24 te wen.
Met die oorwinning kort Wesbank net een bonuspunt teen Bela Vista om op 18 November seker te maak hy pak Robertson Town in een van die twee halfeindrondes op die Boland-stadion in Wellington op 25 November.
Ander Uitslae:
Robertson 45-35 Hawston
Saldanha Bay 28-25 Roses United
Safcol United 23-17 Bella Vista
Vanrhynsdorp Eagles 12-47 Darling





