Die flank Shaun Pieterse op die aanval vir Wesbank. Foto: Ruben Samson

Credit: SYSTEM

Die verdedigende Swartland-ligakampioen vir 2022, Wesbank, het Saterdag op 1 April sy ligaverpligtinge van die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker afgeskop met opwindende rugby teen die nuweling Riebeeck United.

Riebeeck United het gou agtergekom die mededinging in die Grootuitdaagbeker-liga is veel strawwer as in die Streekuitdaagwedstryde toe hy onder ’n loesing van 43-14 deur Wesbank deurgeloop het.

Wesbank het die wedstryd voorlangs oorheers en die tafel vir die agterlyn gedek om aanvalle af te stuur wat op drieë uitgeloop het.

Die losvoorspeler Shawn Pietersen het ’n barshou gespeel en is goed ondersteun deur Maxwell Nero (haker) en die slot Max Mentoor, wat voorlangs vir Wesbank uitgeblink het.

Bradley Appollis, die nuwelingvleuel, het goed saam met die senterpaar gekombineer en die skare op hul voete gehad elke keer as hy die bal ontvang het en dit tot twee drieë gelei het.

In die middelveld was Ralton Du Toit (senter) die meesterbrein en het sy opponent telkemale in die lug laat gryp as hy deur die middelveld gebreek het.

Dashton Wellman se goeie oog vir ’n gaping het sy opponent aan die raai gehou wanneer hy gebreek het.

Die senterpaar, wat vlymskerp deur die middelveld gebreek het, het tot die vleuel Bendon Appollis se twee drieë gelei.

Appollis het die skare op hul voete gehad as hy die bal ontvang en langs die kantlyn afgeblits het en meters om sy teenstaander genael het.

Agter die oond was Bevan Abrahams op sy beste en sy opponent is menige keer geklop. Hy het weer eens gewys hy is een van die beter skrumkakels in die grootuitdaagbeker.

Wesbank het sy meesterskap in die wedstryd getoon toe hy Riebeeck United met sewe drieë teenoor twee gelooi en waarskuwings aan ander spanne in die Swartland gerig dat hulle moeilik van hul kroon afstand sal doen.

Wesbank se sewe drieë is gedruk deur Mathew van der Westhuzsen (2), Bradley Appollis (2), Maxwell Mentoor (1), Keanu Williams (1) en Alberto Damon (1). Damon het met een doelskop geslaag en Bevan Abrahams het drie doelskoppe en ’n strafskop oorgeklits. Riebeeck United kon net 14 punte van twee vervyfde drieë behaal en sal terug tekenbord toe moet gaan om regstellings te gaan doen.

Ander Grootuitdaagbeker uitslae:

Swartland

Darling 57-5 Villagers Wittewater;

Moorreesburg 42-40 Goodhopes;

Saron 14-12 Never Despairs.

Weskus

Saldanha 25-20 Mamre;

Vredenburg 24-17 Koringberg;

St Helena 10-13 Hopefield;

Young Hearts 38-32 Velddrif;

Piketberg 24-23 Langebaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article