Wesbank het met sy sege oor Darling sy regmatige plek as die top span van die Swartland-streek ingeneem. Foto: Hennie Lategan


Die Wesbank-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld ’n begeesterde Darling geklop om sy een hand op die Swartland-kampioentrofee van die Boland-rugbyunie te hou. Die wedstryd was twee uiteenlopende helftes vir die twee spanne, met Wesbank wat eerste bloed geruik het om sy bonuspunt in die eerste helfte te behaal.

Goeie agterlynspel deur die tuisspan het sy ondersteuners op hul voete gehad telkens wanneer die twee vleuels die bal gekry het – veral Hendrik Mathesen met sy bedrieglike spoed en swenk. Darling moes sy keerwerk ken, maar kon ongelukkig nie al die gate in die eerste helfte toestop wanneer die tuisspan begin hardloop het nie.

Die besoekers het in die tweede helfte met mening aangeval en Wesbank laat skrik, en die tuisspan moes benoud verdedig.

Wedstrydfiksheid het teen Darling getel vir die twee weke wat hy nie gespeel het nie en sy spelers nie hul kant op die oefenveld gebring het nie.

Met die eindtelling 33-28 het Wesbank sy regmatige plek as die topspan van die Swartland-streek ingeneem en kan die bestuur, spelers en toeskouers hulle regkry vir die Top-12-uitspeelkompetisie van die Boland-rugbyunie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article