Reeds vandat my kinders klein was, het ons die gewoonte gehad om aan die einde van ’n uitstappie, vakansie of kuier, vir mekaar te vra: Wat hiervan was vir jóu die lekkerste?
Enersyds het dit gehelp om die lekkerte van ’n ervaring nog ’n bietjie langer uit te rek. Dit het ook die kinders gehelp om dinge evaluerend te bekyk.
Ek het eers besef dis ’n amptelike familietradisie toe my dogter haar bruidegom voor my waarsku: Haar ma gaan kort voor hul trou-onthaal verby is, vir hom vra wat was die lekkerste van sy troudag.
Toe ek dus Sondagmiddag hierdie vraag vra, net voordat almal uitmekaarspat ná ’n besige naweek in George, was dit net ons 84-jarige ouma wat glad nie enigiets spesifiek kon bedink nie. Ons kon haar nie verkwalik nie, want dit was ’n besonder besige naweek. Almal, van ons oud-bure, vriende en familie wat ook langnaweek in hierdie gewilde omgewing gehou het, het kom inloer en kuier – sommiges reeds sesuur in die oggend omdat hulle ook (soos ons) hul kinders by George se bergmarathon (MUT) gaan aflaai het.
Sondagmiddag het ons antwoorde oudergewoonte die naweek se lekkertes weerspieël: Rondstap in die ongelooflike Blue Forest Bookshop, Wonki Ware en Victoriabaai, die miljoendollar-uitkykpunt op Wildernis se strand, Hoekwil se staproete rondom die Groot Boom en daarna Hoekwil Hoekkafee se gewilde kaaskoek en koffie, Rondevlei se voëlkykpunt, ’n vyfjarige se verjaardag en die baba se doop.
Ons middelkind was ’n bietjie verbouereerd oor hierdie vraag, want hy en sy bruid het saam met universiteitsvriende ’n een-nagkuier in Oudtshoorn se gewilde Buffelsdrift Game Lodge ingewerk. Al het twee renosters (mét horings) reg langs hul motor verbygestap en kon hulle olifante voer, is hy heeltemal te lojaal om dit prontuit bo ’n familiekuier te stel.
Eers terwyl ons oppak om huis toe te ry en nog kuiermense opdaag, vertel Ouma wat haar beste oomblikke van die naweek was:
Die drie agterkleinkinders wat soos Bybelse olyfboompies rondom die eettafel sit, was vir haar baie lekker. Al het hulle haar een oggend halfses kom skrikmaak en met koue voetjies in haar bed kom kruip sodat sy vir hulle kan boekies lees.
Maar die jongman uit Pretoria wat Donderdagmiddag saam met ons middagete geniet het, hy het haar lekker laat lag – wat was sy grappie nou weer? Toe sukkel ons almal, want om ’n spesifieke grap te onthou nadat vele besoekers, stories en vreugdes deur die huis gewandel het, verg dinkwerk. Tot iemand vra: “Was dit die een oor die Eno’s, Ouma?”
Waarop Ouma straal: “Ja-ja,” bevestig sy. “Die storie van die man wat so siek was weens ’n oordosis Eno’s, toe moes die dokter hom drie garage-pies voer voordat hy kon regkom.”





