MONTAGU – Montagu Villagers het Saterdag (11 Junie) vyf waardevolle ligapunte ingeoes toe hy die besoekende McGregor RFC in ’n opwindende Grootuitdaagbekerwedstryd op die King Edward-rugbyveld 26-19 geklop het.
Die rustydtelling was 12-0 in die tuisspan se guns.
Villagers, wat in die eerste helfte baie goed gespeel het, het tot kort ná rustyd ’n stewige voorsprong van 19 punte opgebou.
Charlton Fortuin (buite-senter), Lincoln Pasquallie (slot) en McMillan Muller (haker en kaptein) het almal in daardie stadium al agter McGregor se doellyn gaan kuier. Jaydon Pieterse (losskakel) het twee drieë verdoel.
Tot op daardie tydstip kon McGregor egter nie veel hond haaraf gemaak kry nie, maar nadat Villagers sy derde drie aangeteken het, het McGregor onmiddellik teruggeslaan met ’n verdoelde drie toe sy binnesenter, Jovan Jordaan, pragtig deur die verdediging gebreek en langs die regter regoppaal afgerond het.
Abreal van Rooi (losskakel) het verdoel, wat die telling op 19-7 te staan gebring het.
Hierna het McGregor met nuwe geesdrif gespeel.
’n Paar minute later is Villagers in sy halfgebied, tussen die 10-meterlyn en die kwartgebied, vir onkantspel gestraf en McGregor het besluit om pale toe te skop.
Van Rooi (stelskopper) se tyd om die skop waar te neem het waarskynlik uitgeloop, want die skeidsregter, Lee-Ann Standfliet, het weer haar fluitjie geblaas en ’n skrum vir Villagers beveel.
Kort hierna is die spel tot binne McGregor se kwartgebied verplaas met ’n lynskop deur Villagers nadat McGregor vir onkantspel gestraf is. Ulfred Terblanché (agsteman) het die daaropvolgende lynstaan-ingooi bemeester en die bal aan John Muller (slot) besorg, wat oor McGregor se doellyn gedryf het vir sy span se bonuspunt-drie.
Sylvester Moses (skrumskakel) het verdoel, wat Villagers ’n gemaklike voorsprong van 26-7 besorg het.
Ná hierdie drie van Villagers was McGregor in ’n verwoestende bui. Dit was asof hy besef het hy moet baie vinnig punte kry om nog ’n sê in die wedstryd te hê, en het met al meer dringendheid begin speel.
Toe Villagers vir ’n oortreding gestraf is, het McGregor ’n vinnige tikskoppie geneem en die bal wyd gespeel. Hierdie dinamiese spel van McGregor in die tweede helfte het Villagers hoofbrekens besorg.
Villagers het dapper probeer om McGregor van sy voorstoep af weg te hou, maar die besoekers was knaend en het uiteindelik twee keer deur die tuisspan se verdediging gebreek.
Eers het Clement Hamilton (skrumskakel) gaan druk, en later het die regtervleuel, Javier Maans, ook agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.
Van Rooi het Maans se drie verdoel, maar die doelskop van Hamilton se drie vroeër, gemis.
Dit het die telling op 26-19 te staan gebring, wat uiteindelik ook die eindtelling was.
Maar met die blaas van die eindfluitjie is die tuisspan se sege in ietwat omstredenheid gedompel.
Die bestuur beweer Standfliet het die wedstryd te vroeg afgeblaas.
Agterna is verskeie weergawes oor die tydsduur van die tweede helfte geopper en wat Standfliet na bewering oor die aangeleentheid sou gesê het.
Pogings om Standfliet vir kommentaar te bereik, was vrugteloos.
Haar selfoonnommer, wat op die Boland se skeidsregters-aanstellingslys aangedui word, het net na stempos oorgeskakel.
Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie, is ook genader vir kommentaar. Sy reaksie was ’n kort en kragtige “geen kommentaar.”





