Vrae het onlangs ontstaan oor Robertson se herwinningstatus, en of dit wel nog bestaan.

Volgens ’n inwoner van Robertson merk sy sedert twee tot drie jaar gelede dat die dorp se herwinninstelsel foutief is, en sy is al vele kere deur munisipale werkers weggewys wanneer sy rommel by die plaaslike stortingsterrein gaan aflaai om dit te laat herwin.

“Ek neem al my herwinnings­materiaal een of twee keer per maand na die stortingsterrein, maar dikwels word ek [deur die munisipale werkers] aangesê om dit net saam met die ander vullis weg te gooi,” het die inwoner per e-pos verduidelik.

Die inwoner het verder gesê die stortingsterrein het gewoonlik houers vir papier, glas en plastiek, maar hierdie houers is nou weg en slegs houers waarin alle rommel gegooi word, is vir gewone en herwinbare rommel beskikbaar.

Volgens dié bekommerde inwoner neem hulle reeds vier jaar hul gesin se herwinningsafval na Robertson se stortingsterrein, waar hulle gereeld by die Langeberg-munisipaliteit aangemeld het wanneer probleme met die proses ontstaan het.

Die inwoner het verduidelik die munisipaliteit reageer gewoonlik op die klagtes en stel dit vir ’n ruk reg, maar later verval hulle weer in hul ou gewoontes.

Sedert ’n week en ’n half gelede kry die inwoner niks daarmee uitgerig nie, en sy het dus nie meer die keuse om te herwin nie.

Die Langeberg-munisipaliteit het nie voor druktyd op Breederivier Gazette se navrae, wat Donderdagoggend 16 Februarie reeds gestuur is, gereageer nie.

Hierdie vrae sluit in:. Het die Robertson-stortingsterrein ’n herwinningsfasiliteit?. Hoe gereeld word die herwinning afgehaal, en waarheen gaan dit om verwerk te word?. ’n Inwoner van Robertson kla die herwinning is dikwels buite werking en hul rommel wat vir herwinningsdoeleindes bedoel was, word saam met gewone rommel gegooi. Wat is die rede hiervoor?. Wanneer sal die herwinningsfasiliteit weer werkend wees sodat die publiek dit kan gebruik?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article