Vyf verdagtes het Maandagmiddag (29 Augustus) tussen 12:00 en 13:00 geld, juweliersware, vuurwapens en ’n voertuig in ’n huisrooftog in Koringberg, Moorreesburg, gebuit.

Sers. Nicolette Visagie, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sê die klaer het saam met vriende na Malmesbury gery om ’n man op te laai wat teëlwerk by haar huis moes voltooi. Die man het voorheen werk vir haar gedoen en was bekend aan haar, maar het nog ’n man by hom gehad wat hy as sy “assistent” voorgestel het. Sy het haar vriende in Malmesbury afgelaai en geld getrek en is met die twee mans terug na haar huis in Koringberg sodat hulle die werk kon doen.

“Met hul aankoms het een van die ‘werkers’, terwyl hulle nog buite was, daarop aangedring dat die tuinier die afstandbeheerder van die motorhek vir hom moet gee. Die ander drie verdagtes het toe die erf binnegekom en haar en die tuinier in die huis ingedwing.” ’n Skoonmaker, wat in die huis was, is saam met die klaer en tuinier vasgebind. Die rowers het daarna met die gesteelde goedere in die klaer se voertuig gevlug.

Buiten die skok van die traumatiese ervaring is niemand in die voorval beseer nie.

Twee verdagtes is vasgekeer, maar die polisie moet hulle nog positief met die voorval verbind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article