’n Harde slag in die huis het ’n slapende egpaar om middernag op hul plaas in die Darling-omgewing wakker geruk.
Tot hul groot skok was vyf mans – gewapen met vuurwapens – in die huis.
Dié huisrooftog het Vrydagoggend 8 Julie om 00:00 plaasgevind.
Volgens sers. Johnatan Filander het die rowers die bejaarde egpaar met kabelbinders vasgebind en hulle met die dood gedreig.
Die rowers het met vier vuurwapens, R22 000 en juwele ter waarde van R1,5 miljoen gevlug.
Die egpaar, onderskeidelik 76 en 73 jaar oud, is nie in die voorval beseer nie.
Die gesteelde juwele sluit verskeie ringe, onder andere ’n trouring en ’n troupant in, sowel as armbande, goue kettings, halssnoere en mansjetknope. Die meeste van die juweelstukke is familie-erfstukke en het groot sentimentele waarde.
Filander sê die rowers is steeds op vrye voet en hy vra enigeen met inligting wat moontlik die ondersoek kan bespoedig, om die Darling-polisiekantoor by 022 409 1300 te skakel.





