Die Malmesbury-gemeenskap is in rou gedompel nadat vyf lede van die Stewart-familie Sondag 2 Oktober naby Glentana in ’n motorbotsing op pad na hul vakansiebestemming in Knysna omgekom het.
Jack en Mandy Stewart, hul ses-jarige dogtertjie, Sarah Beth, en Jack se ouers is in die botsing dood.
Die egpaar se 12-jarige seun is die enigste lid van die gesin wat die botsing oorleef het en sterk steeds in die hospitaal aan.
Sy toestand is stabiel.
Volgens sers. Chris Spies, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het twee voertuie – ’n Ford Eco-sportnuts en ’n Ford Ranger-bakkie, reg van voor op die N2 naby Glentana gebots.
Die Stewarts se voertuig was in die rigting van George op pad en die Ford Ranger het in die rigting van Groot Brak gery.
Spies het gesê die bestuurder van die Ford Ranger is ernstig beseer en word in ’n hospitaal in George behandel.
Mandy het ten tye van haar dood by Miltons Matsemela as aktesekretaris gewerk en Jack was ’n ingenieur by TRW Motors.
Die senior Stewart-egpaar was pensioentrekkers.
Natalie Mohamed, Mandy se oudste suster, beskryf die gesin as liefdevolle mense. Natalie het Jack as “intelligent, hardwerkend en ’n liefdevolle pa vir sy kinders” beskryf. “Hy was [ook] ’n waardige man vir Mandy.”
Volgens Natalie het Jack se ouers die rol van patriarg en matriarg van die Stewart-familie goed vervul.
“Mr. Stewart het sy familie geleer om altyd hardwerkend te wees. Al was hy trots op sy Skotse erfenis, was hy ’n nederige, Godvresende man wat bekend was vir sy toewyding aan sy familie en die kerk,” sê sy.
“Mrs. Stewart het haar gesin met liefde grootgemaak en wou altyd haar kinders en familie geseënd sien.”
Oor haar suster sê sy: “Mandy was ’n sterk, beginselvaste vrou wat haar lewe geleef het om God met liefde vir haar familie te dien. Sy het daarin geglo om die waarheid te verdedig en sou nie terugdeins om vas te staan in haar oortuigings nie.
“Sy was ’n liefdevolle ma vir Jack Connor en Sarah Beth en ’n liefdevolle vrou vir Jack Irvine.
“Sarah Beth was skaam, maar ’n kind met ’n sterk wil. As sy aan jou vashaak, sou sy jou beste metgesel en felste beskermer wees.”
’n Roudiens is Donderdagaand (6 Oktober) by die St. Thomas- Anglikaanse kerk in Latanastraat, Wesbank, gehou.



