Kyk en leer binnekort by Nicole Buirman wanneer sy op Kokkedoor Vuur & Vlam te sien is.


Nicole Buirman is gereed vir almal haar op die nuwe Kokkedoor Vuur & Vlam-televisiereeks te sien.

Sy is een van 20 deelnemers en word beskryf as ’n onthoubraaier in ’n mediaverklaring wat deur KykNET uitgereik is. Volgens die verklaring is ’n onthoubraaier iemand wat nie formele sjef-opleiding of professionele ondervinding het nie. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Nicole was eintlik besig om haar ma, ook ’n bobaas-kok, vir die kompetisie in te skryf.

“Maar toe ek reg lees terwyl ek haar profiel skep, het ek besef dis ’n braaikompetisie en my ma kan nie braai nie. Toe begin ek maar weer die vorm van oor af in te vul met my besonderhede,” verduidelik die Robertson-inwoner.

En toe die mense van KykNET, die vervaardigers van die reeks, haar twee weke later laat weet dat sy gekies is om deel te neem, het sy nie geantwoord nie.

“Eers toe een van hulle my ’n WhatsApp-boodskap stuur, en ek sien die persoon se gesig, het ek toe anders besluit.”

Verder verduidelik sy, sy is al van ’n jong ouderdom betrokke by vuurmaak en braai.

“Ons familie is baie sosiaal en ons kamp vandat ek ’n kind was jaarliks saam. Dus het ons maar geleer om alles op die braai te doen. Braai en kamp gaan mos maar hand aan hand. Nou steek ek en my gesin by die huis ten minste een of twee keer per week ’n vuurtjie aan, en soms meer as gevolg van Eskom. ”

Hoewel sy vir vyf weke weg van die huis af moes wees om die reeks te skiet, meen Buirman dit was een van die ongelooflikste ervarings wat sy nog ooit gehad het.

“Ek wens ek kon in woorde sit hoeveel ek daai vyf weke geniet het. Hoewel dit ’n kompetisie was, was niemand van ons kompeterend met mekaar nie. Ons het altyd lekker saa met mekaar om die vuur gekuier. Dit was net ’n ongelooflike belewenis. Ons het elke dag soos een groot familie saam gekuier.”

Sy bieg ook dat sy nie een is wat van die kollig op haar hou nie, “maar ek is ook iemand as ek ’n avontuur ervaar het, wil ek hê almal moet dit saam met my ervaar en die dinge saam met my beleef. En dit was ook baie moeilik vir my om stil te bly ná ek by die huis gekom het. Nou kan almal saam kyk en gesels.” Sy was voorheen ook onder die top-10 deelnemers op Ultimate Braaimaster twaalf jaar gelede. Net soos sy haar storie agter die kole ken, ken sy hom ook wanneer sy een keer ’n jaar haar jagvernuf afstof wanneer sy in haar ma se tuisdorp van Klaarstroom gaan jag.

Die enigste raad wat sy vir die beste braai kan is: “Moet nooit met charcoal braai nie.”

Kokkedoor Vuur & Vlam begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article