Maceala Samboya druk Boland se laaste drie teen die Leeus op Wesbank-stadion. Foto: David Rossouw


Die Wesbank-rugbyklub het Saterdag gasheer gespeel vir SA Rugby se Premier-vrouerugbyliga tussen Sanlam- Boland Dames en die Leeus-vrouespan op die Wesbank-sportveld in Alfastraat, Malmesbury.

Ná Sanlam-Boland se naelskraapse nederlaag van twee punte teen DHL WP op City Park (15 Junie) het hulle toeskouers gelok na hul wedstryd teen die Leeus.

Die wedstryd het op ’n hoë noot afgeskop en ondersteuners geboei toe Chuma Qawe binne twee minute die eerste drie vir die tuisspan aangeteken het vir ’n voorsprong van 7-0 ná Thanie Yeko se suksesvolle doelskop. Qawe se wegbreek op die 22 m-lyn het gelei tot haar tweede drie, vir ’n voorsprong van 14-0. Kort hierna het Yeko nog drie punte bygedra met ’n strafskop en die telling het na 17-0 gespring.

Qawe het net voor rustyd ’n driekuns behaal met ’n drie naby die linkerpaal, met Yeko wat die doelskop verdoel en die telling tot 24-0 vergroot het. Sanlam Boland se voor- en agterspelers se balverspreiding het uitgeloop op Yolo Lumko se drie onder die pale, wat die voorsprong na 31-0 verleng het.

Carolishia Fisher (Sanlam-Boland) en Sharon Baloyi (Leeus) is elk met rooikaarte stort toe gestuur. Ten spyte van verdere drieë en strafskoppe deur Sanlam-Boland het die Leeus veerkragtigheid getoon toe Nthabiseng Moneymore hul eerste drie voor rustyd verseker en die agterstand met rustyd tot 41-7 verminder het.

Ná rustyd het die Leeus met meer oorgawe gespeel en hul tweede drie behaal en die telling na 41-14 laat krimp.

Sanlam-Boland het hul voorsprong met nog ’n drie na 48-14 vergroot. Die Leeus het egter teruggeveg en twee vinnige drieë gedruk om die telling tot 26-48 te verklein. Maceala Samboya van Wesbank het die oorwinning vir Sanlam-Boland beklink met ’n drie en die eindtelling tot 53-26 opgeskuif.. Abbotsdale het in ’n Boland-Grootuitdaagbekerwedstryd triomfantelik oor Goodhopes van Riebeek uit die stryd getree in ’n harde wedstryd op die Abbotsdale-sportterrein. Die wedstryd, gekenmerk deur klipharde voorspelerspel, het beide spanne met rustyd die punte op 8-8 gedeel, wat die weg gebaan het vir ’n opwindende wedstryd tussen die twee voorlopers.

Moorreesburg Samoa het ’n sege van 29-24 oor Never Despair behaal, terwyl Wesbank met ’n oortuigende oorwinning van 49-17 oor Saron geseëvier het.

Volledige uitslae

Abbotsdale 27-25 Goodhopes; Darling 41-19 Riebeeck United; Moorreesburg 29-24 Never Despairs; Villagers Wittewater 24-45 Porterville; Wesbank 49-17 Saron

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article