’n Vreedsame, maar kragtige optog deur slegs vroue van Ilingelethu, het verlede Donderdag deur Malmesbury se strate gevloei in ’n poging om bewustheid oor geweld teen vroue te skep.
Meer as 300 vroue het Donderdag van Ilingelethu na die Malmesbury-landdroshof in Piet Retiefstraat gestap om te eis die geweld teen vroue moet stopgesit word en ’n moordbeskuldigde nie vrygelaat word nie.
Noluthando Beja van Ilingelethu, wat die optog gereël het, sê hulle is verheug oor die feit dat die vermeende moordenaar nie op borgtog vrygelaat is nie.
Die beskuldigde word van moord aangekla nadat ’n plaaslike vrou met ’n mes doodgesteek is.
“Genoeg is genoeg. Vroue om ons word elke jaar doodgemaak of verkrag, en dit moet nou stop!”
Sy het gesê sy hoop verlede week se poging om verdere geweld teen vroue te verhoed, sal ’n voorbeeld vir ander oortreders wees.
Die beskuldigde verskyn weer môre in die hof. Hoewel nog ’n optog nie sal plaasvind nie, gaan ’n paar vroue uit die gemeenskap wel by die hofverrigtinge wees om hul steun teenoor die slagoffer in die voorval te wys.





