Dominee Farren Cloete van Lambertsbaai spreek die vroue toe tydens die plaaslike polisie se slagofferbemagtigings- High Tea-saamtrek. Die geselligheid was deel van Vrouemaand-vieringe. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Vroue van Montagu is verlede week tydens twee afsonderlike geleenthede as deel van Vrouemaand-vieringe bederf.

Die plaaslike polisie het Saterdag (5 Augustus) in samewerking met die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vrywilligers van die slagofferbemagtigingsprogram asook die Montagu-polisie Jeuglessenaar ’n High Tea-saamtrek met die tema “Dis tyd om te genees” aangebied.

Volgens konst. Esmarelda (Essie) Philander, maatskaplike misdaadvoorkomingsbeampte van die Montagu-polisiekantoor, was die oorhoofse doel van die saamtrek om veral vroue wat slagoffers van misdaad is of was, maar ook vroue in die algemeen, te bemoedig en te bemagtig.

Verskeie sprekers – kapt. Felicia Fredericks van die polisie se werknemersgesondheid- en welstand-afdeling, sers. Igshaan January, die polisiebeampte gemoeid met beskermimgsbevele en gesinsgeweld, asook die Tik Tok-sensasie dominee Farren Cloete van Lambertsbaai, wat die hoofspreker was – het die groot groep mense, hoofsaaklik vroue, toegespreek.

Daar was ook ’n gelukkige prystrekking waar verskeie mense pryse gewen het. Lede van die slagofferbemagtigingsprogram het ’n paar sangitems gelewer.

Astrid Kiewiets van die SAPD Jeuglessenaar het ook ’n lied gesing. Sy en ’n graad 9-leerder van Ashbury Primêr, Khia Witbooi, het elkeen ook ’n gedig voorgedra.

Tee en koffie met beskuit is bedien en vir middagete is ’n heerlike warm bord kos voorgesit.

Die aanbiddingsgroep van die Verenigende Gereformeerde Kerk, Montagu (VGK) het op Vrouedag, Woensdag 9 Augustus, ’n groot aantal vroue in die VGK-saal met allerlei smaaklike verversings onthaal.

Hul tema vir Vrouedag was “Somer in winter”, en ook hier het verskeie sprekers opgetree.

’n Bekende plaaslike sakevrou en Covid-oorwinnaar, Bronwin Boyce, het vertel van haar uitmergelende oorlewingstryd wat sy in die hospitaal teen dié dodelike siekte gevoer het.

Dit was ’n uiters moeilike tyd vir haar en haar kinders, want in dieselfde tyd het Covid haar man, Abé, se lewe geëis.

Sy het onder meer gesê terwyl dokters met hul hande in die hare gesit het omdat sy geen verbetering getoon het nie, het sy haar vertroue in God gestel en sy glo dit het uiteindelik tot haar genesing gelei.

Volgens Boyce was die doel van haar getuienis om mense te bemoedig om altyd op God te vertrou – ongeag hoe benard of verlore hul omstandighede ook al lyk.

Broer Esau Arends, ’n oud-VGK-kerkraadslid, wie se bene albei weens siekte geamputeer is, het ook ’n roerende getuienis gelewer van hoe die Here hom ook deur sy traumatiese stryd gedra het.

Suzette Davids Willemse, ’n maatskaplike werker, het ook ’n bemoedigende boodskap vir die vroue gehad.

’n Paar gelukkiges het geskenkbewyse tydens twee prystrekkings gewen, terwyl twee jong vroue, Eudene Eyssen en Deva Willemse, die aanwesiges met pragtige sang vergas het.

Die vroue, jonger en ouer mense, het ook ’n modeparade, wat baie kostelik was, gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article