MONTAGU – ’n Groep vroue van die Montagu-gebedsgroep het Saterdag (6 Augustus) om 15:00 onder leiding van die profeet Madré Smith in die W.A. Rossouw Primêr-skoolsaal byeengekom waar ’n vrouedag-plegtigheid, genaamd Mask of Lady’s, gehou is.
Suster Ellen het die verwelkoming gedoen en suster Maurene het die geleentheid met ’n gebed geopen.
Dié geselligheid, op die vooraand van Vrouedag, wat op 9 Augustus gevier word, het verskeie aktiwiteite behels.
Sang, geestelike drama sowel as lofprysing en aanbidding was onder meer deel van die verrigtinge.
Women of Faith, ’n groep vroue, en broer Christian het sangstukke gelewer, terwyl suster Ansie, Francois Johnson en profeet Madré Smith ’n geestelike opvoering gedoen het.
Verskeie sprekers wat onderwerpe soos verwerping (Shani Pekeur), seerkry (suster Beatrice) en genade (suster Belinda) belig het, het opgetree.
Tydens die pouse is sop en toebroodjies aan die vroue bedien en elke vrou het selfs ’n klein geskenkie ontvang.
“Ons doel was om gebroke vroue op te hef en ’n bietjie te bederf sodat hulle hul menswaardigheid kan terugkry,” het Smith verduidelik.
Die gasspreker by die geleentheid was pastoor Soulvy Saunders.
Apostel Celia het die afsluitingsgebed waargeneem, waarna die vroue lekker gesellig verkeer het voordat hulle weer uiteen is.
Smith het langs hierdie weg alle skenkers, individue en veral die ondernemings wat bydraes gelewer het, hartlik bedank.
“Sonder jul ruim en onbaatsugtige bydraes sou die dag nie moontlik gewees het nie. Dit word opreg waardeer. ’n Groot dankie ook aan raadslid Jackie en die Women of Faith-vrouegroep dat God in hul harte gewerk het. God seën u,” sê Smith.





