’n Plaaslike dierewelsynsorganisasie het dit sy missie gemaak om seker te maak diere in die verskillende gemeenskappe word goed versorg.
Leandi’s Rescue Mission in Malmesbury, ’n organisasie sonder winsbejag, is in Maart 2022 op die been gebring.
Die stigter, Leandi Everts, sê sy het die organisasie begin nadat sy ontdek het Wesbank en Abbotsdale het geen spesifieke organisasie wat dierebeskermingsprogramme daar aanbied nie.
“My passie is om diere in verskillende gemeenskappe te help deur seker te maak hulle word versorg en om dié wat ons red, die beste tweede kans in die lewe te gee,” sê Everts, wat die afgelope 11 jaar diere uit haglike omstandighede help red en ’n diploma in dieregesondheid het.
“Ons is pro-lewe, soos baie ander, maar hoe ons van hulle verskil, is die feit dat ons probeer om ’n situasie te verbeter en troeteldiere in goeie eienaars se hande te besorg.”
Die organisasie het Sondagoggend (24 Julie) ’n uitreiking vir verwaarloosde honde in die Wesbank-gemeenskap gedoen.
“Ons fokus op verskeie aspekte, soos sterilisasie van alle troeteldiere om die oorbevolking te beperk,” sê sy.
Volgens Everts is die hoofdoel om eienaars en troeteldiere te help om bymekaar te bly, deur te help met hul behoeftes eerder as om op die diere beslag te lê en met honderde honde te sit wat nie huise kry nie.
Sy sê onderrig rakende algemene sorg vir honde en katte is baie belangrik.
Everts het navorsing gedoen en besef nie almal in die publiek het genoeg kennis oor die behoorlike versorging van hul diere nie.
Omdat die organisasie maar net ’n paar maande oud is, is hulle nog in die proses om hul kampe, die kliniek en dierehospitaal ingerig te kry in die gebou wat hul bekom het.
“Dit maak ons lewe baie moeiliker om diere te plaas wat sorg en rehabilitasie nodig het. Slegs ’n paar pitbull– spesifieke organisasies bestaan wat pitbulls inneem om gerehabiliteer en dan uitgeplaas te word, maar die res word doodgemaak of lewenslank gehok.
“Mense hou deesdae pitbulls as ’n statussimbool aan, maar dra min kennis van die ras self,” sê sy.
Everts sê die meeste van hierdie honde word uiteindelik vasgeketting, uitgehonger, ongesosialiseerd, ongewens, oorgeteel en mishandel.
Die meeste honde in Wesbank is ook vasgeketting.
“Twee spesifieke gevalle wat ons organisasie na die vore gebring het, was Payton en Jessie, twee vasgekettingde, uitgeteerde pitbulls. Ons het albei gevoer en die volgende dag teruggekom om met die eienaar te praat en hom meegedeel ons sal sy pitbulls wegneem om behoorlik gewig op te tel, en hy het ingestem.”
Sy sê mense wat dié ras aanhou, moet verantwoordelikheid neem.
Everts erken egter die onkoste om na hierdie diere om te sien, is hoog en hulle het min skenkings wat inkom.
“Ons deel maklik 100 kg se chunks uit, en dis nie eens naby genoeg nie. Ons benodig altyd honde- en katkos in groot hoeveelhede vir ons uitreike oor naweke,” sê sy. Sy hoop hulle sal ook eendag ’n voertuig kan koop om met hul uitreike na diere in die onderskeie gemeenskappe te help.
“Ons doen gewoonlik Saterdae of Sondae uitreiking, maar sodra ons meer stabiel word, hoop ons om elke week een dag ’n uitreik in Abbotsdale en een dag in Wesbank te doen,” sê sy.
Volgens Everts is hul altyd beskikbaar vir noodgevalle deur die week en al het hulle nog nie in Abbotsdale begin nie, kan hulle steeds inwoners help wat hulp met hul diere nodig het.
“Ons het sterilisasie-toestemmingsvorms beskikbaar, wat die eienaar invul, dan kontak ons eers ons borge, maak ’n afspraak by ons veearts – tans die Joostenberg-dierekliniek – laai die diere die oggend op en bring hulle die middag terug,” sê Everts.
Sy gee die volgende raad aan diere-eienaars:
“Ent jou hondjies in wanneer hulle agt weke oud is en ontwurm hul elke drie tot ses maande,” sê sy.
Volgens Everts benodig honde en katte altyd skoon water en honde het ordentlike skuiling en behoorlike beddegoed nodig. “As jy koud kry, kry hulle ook koud. Behoorlike voeding is ook die sleutel.”. Mense in die gemeenskap kan Everts kontak deur ’n WhatsApp na 072 253 4308 te stuur. Besoek ook gerus hul Facebookblad, “Leandi’s Rescue Mission”.





